FOTO Kevin Mark Pass

Mooimaak

Elma Smit-blog: Die plooi-oorlog (Deel 3)

Verbeel sy haar of lyk haar vel jonger en plomper? Ná vier akupunktuur-behandelings het die TV-aanbieder Elma Smit ook al ’n kompliment of wat oor haar mooi gelaat gekry. 

Die afgelope week vertel ’n man hoe hy dit waardeer dat ek my aanslag op my plooie met dié blog “opskryf” en erken dat sy vrou Botox-inspuitings kry maar vreeslik skaam is daaroor.

FOTO: Verskaf deur Via

FOTO Verskaf deur Via

Later kyk ek vir my eie frons in die badkamerspieël en besef ons vroue is soms vrek skaam vir ons plooie, asof dit iets is wat ons oor onsself gebring het omdat ons iewers langs die pad drooggemaak het. En nou moet ons dit wegsteek of in die geheim laat verdwyn.

Waar kom hierdie skuldgevoelens vandaan?

Ons dra helderrooi lipstiffie, helderpienk naels en swart liquid eyeliner soos ’n skild. War paint.

Maar wanneer ons ons hare kleur om die grys te verdoesel of meer dramatiese veranderings aan ons voorkoms maak soos om wimper- en haarverlengings in te sit of weliger wenkbroue te laat tatoeëer (darem net tydelik), rep ons nie maklik ’n woord hieroor nie. Ons fluister agter ons hande oor hoe ons die fronslyne en lagplooie stilletjies ongedaan maak …

Maar wanneer ons ons hare kleur om die grys te verdoesel of meer dramatiese veranderings aan ons voorkoms maak soos om wimper- en haarverlengings in te sit of weliger wenkbroue te laat tatoeëer (darem net tydelik), rep ons nie maklik ’n woord hieroor nie. Ons fluister agter ons hande oor hoe ons die fronslyne en lagplooie stilletjies ongedaan maak …

Met ’n gemoed vol vrae oor hoekom ek die behoefte het om my plooie te takel, kom ek by die homeopaat Debbie Smith aan vir my derde akupunktuur-behandeling. Sy begin deur naalde in my voete, bene en arms te druk voordat sy na my voorkop beweeg. So baie van ons chroniese gesondheidsprobleme het te doen met gebrekkige bloedvloei, verduidelik sy. En plooie is maar net nog ’n simptoom hiervan.

Toe sy dié keer naalde in my gesig steek, kon ek duidelik voel hoe my gesig vinnig vreeslik warm word. Ek was nie seker of ek myself verbeel nie, maar dit het gevoel asof ek erg bloos. Boonop het die warm, tintelende gevoel vir sowat ’n uur of twee ná die behandeling voortgeduur.

Later die middag het die spiere in my gesig ge-twitch, nes wanneer ek soms gespanne is. Ek’t dit ge-google en uitgevind dis nie ongewoon om ná ’n akupunktuur-behandeling spier-aktiwiteit te voel nie. ’n Dag later was die tintel-en-gloei-sensasie iets van die verlede.

Die oggend voor my vierde behandeling het ek sommer sonder onderlaag opgedaag. Ek’t eers gedink dié nuwe selfvertroue is in my kop, maar my goeie buddy Armand Aucamp het daardie middag uit die Kaap gearriveer, vol komplimente oor hoe mooi my vel deesdae lyk! Ek het dit as ’n klinkklare bewys van vordering beskou aangesien ons mekaar weke laas gesien het.

’n Paar dae ná hierdie behandeling kon ek definitief ’n verskil aan my vel se elastisiteit sien. Hoewel mense sê ek lyk dieselfde, voel my vel anders. Dis asof dit effens plomper is.

Deesdae vertel ek vol bravade van my nuutgevonde toewyding tot holistiese gesondheid en verjonging. Dan begin mense sommer skinder oor ander vroue wat skelm na Botox en vullers gryp. Maar hoe is akupunktuur en Botox anders as daai posbusrooi lipstick wat ek soms soos ’n kruk saamdra om my selfvertroue ’n hupstoot te gee?

Dalk moet ons eerder die stigma rondom verjongingsbehandelings uitdaag, ander se besluite respekteer en die klem lê op die vrymoedigheid om in die lig van jou eie waarheid te staan.

Lees Nou

Elma Smit-blog: Die plooi-oorlog (Deel 1)

Elma Smit-blog: Die plooi-oorlog (Deel 2)

SARIE bied ’n platform vir mense om hul skoonheidservarings te deel, maar ons onderskryf nie enige van die behandelings of produkte wat genoem word nie.