FOTO Kevin Mark Pass

FOTO Kevin Mark Pass

Mooimaak

Elma Smit-blog: Die plooi-oorlog (Deel 2)

Kan ’n paar naalde in die gesig die TV-aanbieder Elma Smit se plooie laat verdwyn? Sy vertel hoe dit ná haar eerste twee sessies gaan.

Behandeling 1

Die oggend voor my eerste akupunktuur-teen-plooie-afspraak het ek ’n selfie geneem, opgewonde oor die “after”-foto’s wat gaan kom. Ek het nie te waffers gevoel nie omdat ek met ’n ligte verkoue wakker geword het en die kliere in my nek gevoelig en geswel was.

“Wanneer moet jy weer voor die kamera werk,” het dr. Debbie Smith, die homeopaat wat my behandelings doen, gevra toe ons gaan sit. Die ligblou terapiekamer is meer spa as spreekkamer. Sy beoefen dalk Oosterse medisyne, maar daar is geen teken van bamboes of rooi lanterns nie.

 

Foto: Kevin Mark Pass

Foto: Kevin Mark Pass

Sy verduidelik daar is ’n klein kans dat my vel sal kneus. Dít is ongelukkig ’n risiko wat ek nie wou neem nie, want as daar nou iemand is wat die kneus-lotery sal wen, is dit ek en ek moes die volgende dag die program Buite die lyne vir VIA opneem. Sy het toe maar eers my gesig gelos en my eerste sessie met ’n klompie naalde in my voete, bene, hande en nek aangepak. Sy het selfs ’n naald in my regteroorskulp gedruk.

Die sessie was egter steeds voordelig, want akupunktuur is ’n holistiese behandeling wat allerlei liggaamskete behandel, het sy verduidelik. Vreemd genoeg maak die naalde nie seer nie, dalk omdat elke naald so dun soos ’n haar is (en ek het fyn hare!). Dis vir seker nie die kaliber naald waarmee ek broeksome insit nie. Ek kon dit soms in my vel voel steek, maar ek dink dis net pynlik as iemand erg droogmaak of jy vrééslik kleinserig is.

Vreemd genoeg maak die naalde nie seer nie, dalk omdat elke naald so dun soos ’n haar is (en ek het fyn hare!). Dis vir seker nie die kaliber naald waarmee ek broeksome insit nie.

Ná ’n paar minute moes ek met my foon se selfie-kamera loer of die naald in my oorskulp nog daar was. Ek was oortuig dit het uitgeval, maar Meneer Naald was nog gemaklik op sy plek.

Nadat sy seker so 15 (dalk meer?) naalde rondom my enkels, gewrigte, nek en voete geposisioneer het, het sy my vir 20 minute in die donker op my eie laat lê met Oosterse spa-musiek in die agtergrond. Ek’t my volgende afspraak vir ’n namiddag gereël sodat ek direk daarna huis toe kan gaan, want teen die tyd dat sy die naalde kom uithaal het, was ek so Zen soos die goue Boeddha in die prent teen die blou kamertjie se muur.

Lees: Elma Smit-blog (Deel 1)

Toe ek by die ontvangstoonbank weer tot verhaal kom en my bankkaart se PIN-nommer probeer onthou, was daar skielik nie meer ’n gevoeligheid in my nek nie. Dr. Debbie 1 – geswolle kliere 0.

Nog ’n vreemde ding was dat ’n erge migraineiets waaraan ek van tyd tot tyd ly – my binne ’n uur of twee ná die behandeling platgetrek het. Gewoonlik neem my migraines ’n paar uur om aan die gang te kom en is ek omtrent 24 uur lank erg uitgeput – dit voel gewoonlik asof ek die vorige aand al die vonkelwyn in Gauteng opgedrink het! In uitsonderlike gevalle sukkel ek selfs om te sien en word ek baie naar. Dié migraine was egter twee uur later verby, geen naarheid nie, en ek het daarna merkwaardig energiek gevoel! Bonus.

Behandeling 2

Ná laas week se migraine het alles teruggekeer na normaal en die verkoue het gewyk (yay!), maar ek het vanoggend met hooikoors opgestaan. Niks ernstigs nie, maar rooi oë en ’n lekker dik neus het wéér my “before”-foto’s bederf.

Elma_Smit

Dié keer het my opname-skedule toegelaat dat dr. Debbie kon inlê met die naalde in my gesig! Sy het sowat 15 naalde ingesteek daar waar plooie is of waar plooie aan’t kom is: in my voorkop, om my mond en selfs in my ken. Sy het ook weer ’n paar naalde in my enkels, gewrigte en bene gesteek. Ek het die warm gevoel op my vel toe sy die naalde begin insteek, geniet. Maar in dié stadium lyk my vel nog vir my dieselfde.

* Lees volgende week om uit te vind of Elma ná nog een of twee akupunktuur-behandelings ’n verskil aan haar gesig sien.

SARIE bied ’n platform vir mense om hul skoonheidservarings te deel, maar ons onderskryf nie enige van die behandelings of produkte wat genoem word nie. 

Lees Nou

Hoe lank staan jy voor die grimeerspieël? Spaar só tyd

Wat’s op jou naels, Kim?!