mei08hare1
Het jy gehoor?

5 x mooi

OU BOB, NUWE FLAIR
Die bob (foto regs) is wéér terug, maar met ’n moderne gevoel: ‘Dit skep ’n klassieke voorkoms, maar dié seisoen is dit grafies, met heelwat volume en ’n definitiewe styl. Weer eens, dink afgerond, maar met beweging,’ volgens Frédéric.

SOOS SJOKOLADE
Donker hare beweeg na ryker skakerings. Sjokoladebruin en mahonie met karamel of goudbruin ligstrepe word strategies op haarpunte aangebring om meer natuurlik te lyk.  ‘Jennifer Garner en Angelina Jolie wys albei hoe jy ’n diepbruin perfek kan dra,’ sê Frédéric. Blonde hare neig na baby blond, heuningblond en goudblond – natuurlike skakerings wat maklik is om in stand te hou. Volgens hom slaag Naomi Watts en Reese Witherspoon altyd met dié stylvolle haarkleur.

GLANS ’N MÓÉT
Die nodige produk hierdie winter is ’n glansroom (finishing cream) en die perfekte styl om dit by te gebruik is ’n sjiek, modieuse poniestert. Doen dit só, sê Frédéric: ‘Trek jou hare egalig terug in ’n lae poniestert en bind hare vas met ’n dun rekkie. Draai ’n stukkie hare om die rekkie sodat dit nie sigbaar is nie. Gebruik ’n glansroom (probeer Fekkai Coiff Magnifique Ultra-Light Finishing Creme, R275) op jou haarpunte vir ekstra definisie en glans. Dit sal ook wegstaanhare platvee.’

Lang lokke. LANG LOKKE
In 2008 is hare goed versorg met baie beweging en lewe. Elke kapsel spreek van moeitelose elegansie. Langer hare is weer oral te sien en spog mét los, golwende krulle.  ‘Dink modern en stylvol as jy lang hare het. Los dit glad op jou kroontjie, met krulle wat by jou wange begin,’ sê Frédéric.

Tom Cruise-voorkoms. TOM CRUISE-VOORKOMS
Manstyle herinner aan die mod-era van die 60’s met hare wat langer voor en korter agter is. “Hierdie styl was onlangs te sien op die loopplanke van Gucci, Prada en Miu Miu en is baie soos Tom Cruise se huidige haarstyl’ - Frédéric

* FRÉDÉRIC HET OOK SY EIE PRODUK-REEKS NA SA GEBRING. BESKIKBAAR BY UITSOEKTAKKE VAN WOOLWORTHS.