FOTO: Instagram (@kendalljenner)

Het jy gehoor?

Kendall Jenner die nuwe gesig van Estée Lauder

2014 is beslis ’n opwindende jaar vir die gewilde TV-ster en model Kendall Jenner. Nie net het sy binne enkele maande opgang as ’n supermodel gemaak nie; sy is ook pas aangewys as die nuwe gesig van die skoonheidshuis Estée Lauder.

Estée Lauder het dié agter-die-skerms-foto van hul eerste advertensieveldtog met Kendall op Instagram gedeel.

FOTO: Estée Lauder

FOTO: Estée Lauder

Kendall spog met dié seisoen se ‘mat’-naels – lees meer hiér!

Hoewel dié 19-jarige donkerkop tans een van die wêreld se gesogste modelle is, is sy beter bekend as die halfsuster van die werklikheidstelevisie-sterre Kim, Khloé en Kourtney Kardashian. Hul TV-reeks, Keeping up with the Kardashians, word sedert 2007 uitgesaai en Kendall verskyn ook hierin saam met haar ander suster, Kylie Jenner. Kendall het Februarie vanjaar haar debuut op die loopplank gemaak en sedertdien vir top-modehuise soos Marc Jacobs, Chanel en Givenchy op die loopplank verskyn. Daarby verskyn sy ook binnekort in ’n mode-fotosessie in die glanstydskrif Vogue.

KYK DIE VIDEO

Kris en Bruce Jenner: dis finaal verby…

Kendall spog met meer as 30 miljoen aanhangers op haar Instagram-, Twitter- en Facebook-profiele saam en deel gereeld foto’s, video’s en aanhalings.

Sy was ook eerste om die nuus van haar nuwe rol te deel en sê dit voel nog vir haar soos ’n droom. “Ek het agter die skerms tydens die Paryse modeweek uitgevind en moes dit ’n geheim hou. Ek is so opgewonde om dit nou te kan deel,” het Kendall in ’n persverklaring gesê.

Ons sien uit om vir Kendall binnekort in Estée Lauder se advertensieveldtogte te sien.

Hiér is solank ’n video-voorsmakie waarna aanhangers kan uitsien.

Het jy geweet?

  • Keeping up with the Kardashians is een van die gewildste werklikheidsreekse op TV.
  • Kendall se pa is die Olimpiese atleet Bruce Jenner. Hy het in 1976 ’n goue Olimpiese medalje vir tienkamp gewen.
  • Kendall se ma, Kris, was voorheen met die prokureur Robert Kardashian getroud. Hy was deel van OJ Simpson se verdedigingspan.

Estée Lauder Modern Muse wen parfuum van die jaar – lees meer!