Het jy gehoor?

Bobbi Brown se moets

Al wat ek wou doen, was om soos ’n supermodel te lyk. Soos Barbie. Die ‘in’ voorkoms was toe blond met blou oë, maar maak nie saak hoeveel oogskadu ek aangewend het nie, ek het net nooit só gelyk nie. En toe ek Ali MacGraw (ster van die ikoniese 70’s-rolprent Love Story) vir die eerste keer sien, het ek vir myself gesê: ‘Weet jy, jy kan ook mooi wees.’”

Donkerkop Ali se natuurlike en anderste skoonheid was nie die norm van die tyd nie en sy het dadelik Bobbi se ikoon geword. “Ek wil dit met ander deel, want ek glo wanneer vroue besef hulle beskik oor die vermoë om mooi te wees sal hulle weer met nuwe oë na hulself kyk.”

Bobbi glo dat vroue dikwels hul eie struikelblok is na goedvoel, want dis so maklik om nié goed te voel nie: “Die meeste foto’s wat ons van aktrises sien, is perfek, maar jy moet besef daar is spanne wat dit moontlik maak: haarkappers, grimeerkunstenaars, persoonlike afrigters. En baie van hulle oefen 4 ure per dag, want dis hul werk! Ons is so behep met perfek. Dít terwyl daar nie iets is soos perfek nie.”

Bobbi praat opgewonde oor haar nuwe grimeerboek, Pretty Powerful: Beauty Stories to Inspire Confidence*, wat pas verskyn het. Sy glo ’n grimeerboek wat gaan oor meer as net grimering is nodig.“Wanneer jy iemand grimeer, laat jy hulle nie net mooi lyk nie, jy hoor ook waaroor die lewe vir hulle gaan en wat hulle die beste weergawe van hulself maak. Dít is wat ek met vroue wil deel.”

*By vooraanstaande boekwinkels (sowat R300)

[box:full:red:both]
Bobbi se moets

Wat is jou beste skoonheidsraad?
Leer om die beste verbloemer te gebruik, want dit sorg dat jy nie moeg lyk nie. Ek is ook mal oor blosser in die skakering waarin jou wange natuurlik verkleur wanneer jy oefen. Dit is die kleur wat die natuur vir jou wange bedoel het. (Bobbi se gunsteling is die Sand Pink Blush.)

Wat is die grootse grimeerfout?
Baie vroue onderskat die krag van basiese grimeertruuks: Die regte onderlaag en die regte vogroom. Dit beteken ’n onderlaag wat perfek by jou velkleur pas en die regte formule vir jou leefstyl is, en ’n vogroom wat reg is vir jóú spesifieke velkommers. Grimering moet nie gekompliseerd wees nie.

Wat dink jy as jy in die spieël kyk?

Tydens vakansies lyk ek vir myself goed, maar as ek hard gewerk het, lyk ek nie vir myself so goed nie. Maar dit gaan nie vir my daaroor om altyd perfek te lyk nie, maar liewer om eg te wees. (Lees Bobbi se blog by everythingbobbi.com)

[/box]