FOTO: Yves Saint Laurent Beauté

Het jy gehoor?

Cara Delevingne aangewys as gesig van skoonheidshuis

Die bekende Britse supermodel Cara Delevingne is gister amptelik aangewys as die gesig vir die luukse skoonheidshuis Yves Saint Laurent Beauté. Weer eens ’n bewys dat die wêreld (en ons) nie genoeg van dié 22-jarige model kan kry nie.

Hoewel Cara reeds in verskeie advertensieveldtogte vir dié skoonheidshuis verskyn het, sal sy vanjaar YSL Beauté se grimeerreekse verteenwoordig. Aanhangers kan uitsien na gedrukte advertensieveldtogte en digitale films waarin Cara met haar ikoniese wenkbroue en treffende groot oë sal verskyn, volgens ’n persverklaring.

Cara in die top-“looks” vir die seisoen – sien dit hiér!

“Cara verteenwoordig die hedendaagse beeld van die Yves Saint Laurent Beauté-vrou: passievol, energiek, dinamies en eietyds,” sê Stephan Bezy, internasionale bestuurder van Yves Saint Laurent Beauté.

Woensdagwenk: Kry só bekendes se rooitapyt-voorkomste

Sedert haar modelloopbaan in 2009 afgeskop het, het Cara al vir bekende modehuise soos Chanel, Burberry, Dolce & Gabbana en Oscar de la Renta op die loopplank verskyn. Sy is ’n gereelde gesig in advertensieveldtogte vir mode- en skoonheidshuise en het al onder meer in veldtogte vir Topshop, Burberry en DKNY verkyn. Boonop het sy verlede jaar tydens die British Fashion Awards vir die tweede keer die Model van die Jaar-toekenning ontvang.

“Ek is trots daarop om die waaghalsigheid en moderne aanslag van die Yves Saint Laurent Beauté-vrou te verteenwoordig. Dis ’n vroulikheid waarmee ek my kan vereenselwig,” sê Cara oor die aankondiging.

Cara is veral aktief op Instagram en het onlangs dié foto’s op haar profiel gedeel. Sy is bekend vir haar speelse natuur en hou daarvan om snaakse gesigte te trek.

YSL Beauté vier 50 jaar met eksklusiewe ontwerpe van SA-ontwerpers – lees meer!