Het jy gehoor?

Clarins-vrou trotseer Everest vir derde keer

Dinsdag het Lynne Hanna, hoof- uitvoerende beampte van die skoonheidshuis Clarins in die streek Afrika suid van die Sahara, al haar persoonlike besittings in haar kantoor opgepak en huis toe geneem. Dit was haar laaste werkdag vóór sy Sondag saam met haar man, Noel, vertrek om die berg Everest te gaan uitklim.

SA se gewildste honde!

Voordat jy die hoogste berg op aarde aanpak, sorg jy dat jou sake in orde is: Jy pas jou testament aan en jy maak jou huis skoon. Want sou daar iets met haar gebeur en sy kom nie terug nie, moet geen ekstra take op ander mense se skouers rus nie.

Lynne Hanna FOTO: Verskaf deur Clarins

Lynne Hanna, hoof- uitvoerende beampte van die skoonheidshuis Clarins in Afrika suid van die Sahara, trotseer vanjaar die berg Everest vir die derde keer aan. FOTO: Verskaf deur Clarins

Dit is die derde keer dat Lynne Everest trotseer. Noel, wat die berg vir die agtste keer gaan uitklim, was nog elke keer aan haar sy en dié keer is geen uitsondering nie. Tydens Lynne se eerste Everest-tog in 2005 het Noel sy sig tydelik verloor weens retinale bloeding en sy het besluit om saam met hom halt te roep. Met haar tweede probeerslag het sy die kruin vanaf die suidekant van die berg (in Nepal) bereik.

Dié keer pak sy Everest van die noordekant (in Tibet) aan, nes haar eerste, onsuksesvolle keer. Dié kant van die berg word as die moeiliker kant beskou omdat dit kouer en meer winderig is. Die roetes is ook minder bekend. As sy wel bo uitkom, sal sy die eerste vrou in Brittanje en Ierland wees (Lynne is van Ierland) wat Everest se hoogste punt van albei kante kon bereik. Sou Noel dit ook doen, sal hulle die eerste getroude paartjie in die wêreld wees wat dit kon regkry.

“Dít is natuurlik ’n groot motivering,” sê Lynne. “Maar ek het myself sielkundig voorberei dat die weer dalk nie gaan saamspeel nie en ek die geleentheid gaan misloop om tot bo te klim. As dit die geval is, sal ek dit aanvaar.”

FOTO: Verskaf deur Clarins

Lynne en Noel Hanna. FOTO: Verskaf deur Clarins

Vir die meeste van ons klink dit onmoontlik om byna 9 000 m in ysige koue teen ’n berg op te klouter. “Ek doen dit juis omdat dit moeilik is. Ek is my hele lewe lank al lief vir ’n uitdaging. Ek hou ook daarvan om vir ’n tyd lank heeltemal verwyderd van die res van die wêreld te wees, om vir dae lank nie ’n enkele e-pos te lees nie. Al wat jy doen is eet, slaap, klim, eet, slaap klim. Die afsondering is bevrydend. Jy voel so klein daarbo op die berg en besef van voor af hoe asemrowend die aarde is.”

Die 8 beste haarsnitte vir vroue bó 40

Lynne glo dit is binne enigiemand se bereik om die toppunt van die wêreld te bereik. “Solank jy betreklik fiks is.” Sy het nie haar oefenprogram aangepas nie. Sy het net die laaste maand of wat meer oefeninge vir haar bolyf gedoen. “Om jou kop reg te kry is veel belangriker. Jy moet gefokus bly, konsentreer op jou asemhaling en eenvoudig die een voet voor die ander sit.”

lynne hanna clarins

Lynne tydens een van haar vorige Everest-reistogte. FOTO: Verskaf deur Clarins

Die feit dat Noel saam haar klim, maak die ondervinding effens makliker. “Maar eintlik is jy maar op jou eie. Jy kan nie op enigiemand staatmaak om jou bo te kry nie. Jou kop en lyf moet sterk genoeg wees om dit alleen te doen.”

Om haar kantoor op te pak voor sy vertrek, is al ’n tradisie. Dit laat haar kalm voel voor die sowat 40 dae se uitmergelende stappery. Dan bly daar net ’n paar dae oor om klaar te pak. More-aand sal sy haar familie in Ierland oor Skype groet. En dan hou sy en Noel ’n ordentlike Suid-Afrikaanse braai. Die briewe wat sy vir haar ma, pa, twee susters en broer geskryf het, word veilig weggebêre. Dít sal hulle net lees sou sy nie terugkeer nie. “Hierdie is ’n ding wat jy nie ligtelik moet opneem nie.”

lynne hanna clarins

Lynne saam met Christian Courtin-Clarins, voorsitter van Clarins se toesighoudende raad en seun van die stigter van dié Franse skoonheidshuis. FOTO: Verskaf deur Clarins

*Clarins borg Lynne se Everest-reistog. Volg Lynne en Noel se reis op Facebook by HannaEverest2016. Clarins sal ook van tyd tot tyd inligting oor Lynne se vordering deel op hul Facebook-blad by Clarins South Africa.

Die ekspedisie-span se bagasie

FOTO: Facebook - Lynne & Noel Hanna

Lynne en Noel ontmoet hul sherpa vir die ekspedisie, Lakba.

FOTO: Facebook - Lynne & Noel Hanna

Hiér deel die ekspedisie-span gelukbringerserpe onder mekaar uit.

FOTO: Facebook - Lynne & Noel Hanna

Lynne en Noel op 'n bus na die lughawe in Kathmandu.

FOTO: Facebook - Lynne & Noel Hanna

Lynne en Noel by die huurmotor waarmee hulle na die voet van Everest gaan ry.

FOTO: Facebook - Lynne & Noel Hanna

3 wenke vir bobaas-gesondheid