Het jy gehoor?

Die reuk van swart rose

“Hoe ruik ’n blom wat nie ’n geur het nie?”
Dis die vraag waaroor parfumeurs besin wanneer hulle deesdae met ’n nuwe reukwater vorendag wil kom. Die antwoord lê natuurlik iewers in hul verbeelding versteek.

In vandag se parfuumwêreld word ’n geurlose blom as ’n gulde kans gesien om ’n nuwe geurkombinasie te skep. Soos Kate Moss se eerste geur, Kate, waarvan een van die hoofnote ’n swart roos is – ’n blom waaroor baie tuinboukundiges al eeue lank droom, maar nog nooit kon kweek nie. Ook die swart orgidee wat Tom Ford spesiaal laat kweek het vir sy parfuum, Tom Ford Black Orchid, is met sy bruin en pers blomblare die donkerste orgidee bekend. Maar ook dié blom is geurloos.

Hierdie tendens het eintlik al soos ’n veldbrand onder ons neuse versprei, want ’n papawer en ’n madeliefie is ook geurloos – anders as wat Marc Jacobs en Kenzo ons sou wou laat glo met hul skeppings Daisy en Flower By Kenzo.

Miskien is dit net ’n kwessie van tyd totdat J.K. Rowling se snargaluff en gillyweed gebottel gaan word, of dalk droom iemand ’n geur op vir J.R.Tolkien se simbelmynë, die wit, klokvormige blom wat net op konings se grafte groei in The Lord of the Rings!

In dié wêreld van parfuums, waar kunstenaars nie ophou droom nie en wetenskaplikes nie meer perke ken nie, ís enigiets moontlik.

Kate Moss Kate (R350 vir 30 ml EDT)
Tom Ford Black Orchid (R595 vir 30 ml EDP)
Daisy Marc Jacobs (R750 vir 50 ml EDT)
Flower By Kenzo (R820 vir 50 ml EDT. Nou beskikbaar in ’n hervulbare “groen” bottel.  Jy kan jou 50 ml-bottel vir R575 by uitsoek-takke van Edgars laat hervul.)

Sover ons weet, is Marc Jacobs die eerste om madeliefies as inspirasie vir geur te gebruik.