FOTO: Instagram  @styleiinspo

FOTO: Instagram @styleiinspo

Het jy gehoor?

Die sondaars wat jou vel verkleur

Volgens Sonette Donker, velsorgkenner van die velsorgkliniek Skin ID in Johannesburg, word donker vlekke deur die volgende faktore veroorsaak. 

Vrye radikale

Wat dit doen Wanneer ons baie stres, te veel alkohol drink, rook of blootgestel word aan besoedeling en die son, vorm vrye radikale (byprodukte in ons selle weens metabolisme wat die selle dan beskadig). Dít dra by tot abnormale melanien- vervaardiging wat tot donker vlekke kan lei.

Die oplossing Gebruik antioksidante, veral vitamien A, E en C. Jy kan uitkyk vir velsorgprodukte wat dié vitamiene bevat of dit as ’n aanvulling drink.

Hormone

Wat dit doen Hormoonveranderinge in jou lyf wanneer jy ’n voorbehoedpil gebruik of swanger is, kan pigmentasie veroorsaak. Dié vlekke verdwyn soms ’n paar maande nadat jy die Pil gelos het of jou baba gebore is, tensy jy in hierdie tyd gereeld in die son gekom het, sê Sonette. Te veel sonblootstelling kan die donker vlekke vererger.

Die oplossing Probeer om sover moontlik uit die son te bly as jy op die Pil is of swanger is. Gebruik ook daagliks ’n goeie sonskerm.

Spanning

Wat dit doen Te veel spanning kan lei tot ’n hormoonwanbalans wat pigmentasie kan vorm. “Jy sien sogenaamde ‘stres-pigmentasie’ gewoonlik aan die buitekant van jou gesig, veral rondom jou haarlyn en kakebeen,” verduidelik Sonette

Die oplossing Probeer jou spanningsvlakke beheer deur gereeld te oefen, genoeg te slaap en af en toe te ontspan deur byvoorbeeld vir ’n massering te gaan.

Te veel sonblootstelling

Wat dit doen Melanien werk soos ’n natuurlike sonskerm vir jou vel. Wanneer die son jou vel gereeld brand, word meer van dié pigment afgeskei en dit veroorsaak donker vlekke. Dié vlekke absorbeer UV-lig sodat dit nie die selle in die dieper deel van jou vel beskadig nie.

Die oplossing Gebruik daagliks ’n goeie sonskerm met ’n sonbeskermingsfaktor (SBF) van minstens 30, winter en somer. Maak seker jou sonskerm beskerm jou vel teen UVA- én UVB-strale.

__________

Lees later dié week op SARIE.com vir die produkte en behandelings om pigmentasie te takel.

Dié inligting kom uit die Junie-uitgawe van SARIE. Dié uitgawe is nie meer beskikbaar nie, maar kan steeds HIER digitaal afgelaai word.

In die Julie-uitgawe van SARIE ondersoek ons skoonheidsredakteur Charis produkte wat saam met ander produkte gebruik moet word in haar artikel: “Twee is beter as een”.

nadia beukes