Het jy gehoor?

Goue meisie Charlize se skoonheidswenke

Wat is jou skoonheidsritueel? Enige wenke?
Ek reinig my gesig soggens en saans en gebruik ‘n vogroom met sonblok gedurende die dag. Onthou om jou vel altyd in die aand te reinig en te bevog.

Grimeer-rituele en -wenke?
Ek kry vir Shane Paish (grimeerkunstenaar van die sterre en grimeerkonsultant vir Dior) – dis my grootste grimeerwenk! Maar ek verwyder ook elke aand my grimering en gebruik dan Christian Dior L’Or De Vie La Crème.

Watter skoonheidsprodukte is absoluut noodsaaklik?
‘n Goeie reiniger en sonblok. Ek probeer om my vel soveel moontlik te bevog.

Jou moet-hê-grimeerprodukte?
Dior Pressed Powder in medium, wat ook ‘n sonblok het, en Dior 5 Eyeshadow in beige met natuurlike skakerings. ‘n Goeie stel grimeerkwassies en lipsalf is ook ‘n móét. Ek kan ook nie sonder ‘n swart oogomlyner, ‘n wimper-krultang en ‘n verskeidenheid Dior Addict lipkleure nie. Verder gebruik ek enigiets en alles wat Shane vir my gee wat nuut is van Dior. Ek vertrou hom.

Hoe versorg jy jou hare?
Ek gebruik sjampoes en opknapper spesifiek vir blonde hare. Een keer per week sal ek my hare met ‘n goeie behandeling vertroetel.

Jou gunsteling-massering?
Ek is mal oor masserings – ‘n goeie Thaise een is my top-keuse.

Wat was die eerste skoonheidsproduk wat jy ooit gebruik het?
Lipglans met ‘n kersiegeur.

Watter skoonheidslesse het jy by jou ma geleer?
My ma het alles wat sy weet vir my geleer, meestal oor hoe om mooi na my vel te kyk en gereeld sonblok te dra – dis veral ‘n noodsaaklikheid in Suid-Afrika.

Wat is die grootste “skoonheidsonde” wat ‘n mens kan pleeg?
Om in die son te lê. Moenie jou gesig in die son laat kom nie! En moet nooit jou sonblok vergeet nie. Daar is niks mooier as ‘n gesonde vel nie.

Hoe voel jy oor plastiese chirurgie en Botoks?
Vir my is daar iets moois aan die verouderingsproses, maar ek weet ook dis iets wat moeilik in ons samelewing aanvaar word. Ek veroordeel nie mense wat kies om dié roete te volg nie. ‘n Mens moet goed kan voel oor jouself.