Taylor Swift
Het jy gehoor?

Groot stap na platinumblond – dít moet jy weet!

Sommige bekendes, internasionaal en plaaslik, is geneig om hul haarstyl en -kleur byna elke maand te verander. Maar as drie bekendes binne ’n week hul hare helder platinumblond kleur, laat dit ons wonder . . . Is dít dalk Hollywood se nuutste haartrend?

Chrissy Teigen en John Legend se pienkvoet is hier

Die Twilight-aktrise Kristen Stewart is verlede week eerste met ’n splinternuwe platinumblond haarkleur gewaar. Toe, skaars ’n paar dae later, verskyn die Hunger Games-aktrise Jennifer Lawrence op die rooi tapyt met ’n koeler ysblonde haarkleur as die goudblond wat sy sedert die begin van die jaar dra. En om alles te kroon het almal se gunsteling-popsangeres, Taylor Swift, net voor die naweek ook háár kenmerkende vaalblonde lokke vir ’n helder platinumblond verruil.

Kyk hiér na Kristen Stewart se nuwe platinumblond-haarkleur.

Jennifer Lawrence

Ons dink dié nuwe skakering laat veral Jennifer se grysblou oë die aandag trek.

 

Taylor Swift

Taylor se nuwe platinumblond lyk gewaagd, modern en jeugdig.

BLEACHELLA

A photo posted by Taylor Swift (@taylorswift) on

 

Voel jy ook lus om jou hare platinumblond te kleur? Hiér’s 6 dinge wat jy móét weet:

◊ Dié skakering is gewaagd en pas die beste by ’n ligte gelaatskleur met ’n koel of pienk ondertoon. Op ’n donkerder gelaatskleur kan dit jou gesig maklik vaal, uitgewas en ouer laat lyk. Lees hiér vir wenke om jou velondertoon binne vyf minute te bepaal!

◊ Hoe donkerder jou hare, hoe meer kleursessies (tot 3 salonbesoeke) gaan dit neem om dit platinumblond te kry omdat jou hare eers geleidelik ligter gebleik moet word voordat die stilis dit kan kleur.

◊ Tydens die bleikproses word die kutikel (die buitenste deel van jou hare) beskadig en veroorsaak so dat vog makliker uit jou hare ontsnap. Wanneer jy jou hare was, gebruik ’n bevogtigende sjampoe en opknapper om vog terug te sit.

Probeer: Dove Advanced Hair Series Pure Care Dry Oil For Dry Dull Hair Shampoo en Conditioner (R70 elk)

◊ Platinumblonde hare kan ná ’n ruk geel lyk, veral as jy gereeld in die son kom. Gebruik af en toe ’n sjampoe en opknapper (soos ’n silwer – of pers sjampoe) wat geelheid teenwerk. Wees ook op die uitkyk vir stileringsprodukte wat jou hare teen UV-strale beskerm.

Probeer: Davines Alchemic Silwer Shampoo (R220) en Conditioner (R305). By uitsoeksalonne

◊ Moenie jou platinumblonde hare met hitte stileer sonder om ’n hittebeskermingsproduk te gebruik nie. Dit sal jou hare net nog meer uitdroog.

◊ As jy jou hare platinumblond kleur, gaan jy gereeld die kleur by jou wortels moet laat opknap soos wat dit uitgroei.

Só lyk jy langer – stylwenke vir kort mense

Kan ek self tuis my hare platinumblond kleur?

As jy reeds blond is, sal dit makliker wees om jou hare platinumblond te kleur. As jy ’n brunet is, kan jy dit tuis doen deur eers ’n voorverligter (pre-lightener) te gebruik, stel Dominique Stichling van die skoonheidshuis Garnier voor. Dié produk berei jou hare voor vir jou ligter blonde skakering deur eers jou huidige kleur te verlig. “Jy sal met ’n voorverligter van ligbruin na blond kan gaan, of van bruin na donkerblond.” Vir ’n meer drastiese kleurverandering is dit beter om ’n haarsalon te besoek om te keer dat jou hare te veel deur die kleurproses beskadig word.

Probeer: Garnier Nutrisse Ultra Color Permanent Nourishing Hair Color in Ice Blonde (R79.95)

Onthou jy nog . . .

. . . toe die realiteitster Kim Kardashian sowat ’n jaar gelede die mode- en skoonheidswêreld geskok het deur haar donker hare skielik platinumblond te kleur?

Ons is mal oor dié vyf nuwe maskaras!