Het jy gehoor?

Kleur jou naels vir woema

Essie Weingarten, die Amerikaner wat die handelsnaam Essie 29 jaar gelede geskep het, het SA onlangs besoek en verduidelik hoekom sy so passievol oor hande en naels is: “Jou hande verklap soveel van jou en dit is waar mense kyk wanneer jy met hulle praat – hulle kyk na jou oë en na jou hande.

“Jou hande is ongelukkig ook een van die eerste sondaars wat jou ouderdom verklap,” waarsku sy.

Essie beveel aan dat jy elke dag sonbrandroom op jou hande sit vir beskerming.

Sy het ook pas ‘n 4-stap-behandeling bekend gestel, wat hande sal voed en ouderdomsvlekke sal verminder. “Dis nodig om produkte op jou hande te gebruik wat intens voed en bevog. Vitamiene A en C en dropekstrak is ideaal hiervoor.”

Essie glo dat jou hande selfs nuwe lewe in jou klerekas kan blaas. “As jou hande goed versorg is en jy gebruik ‘n naelkleur wat jou laat goed voel, is dit soos om ‘n nuwe uitrusting aan te trek. Dit sal selfs jou bestaande klere anders laat lyk en nuwe kombinasies in jou klerekas inspireer wat by jou naelkleur pas.”