FOTO: © Bob Beerman

Het jy gehoor?

Marilyn Monroe in Chanel-advertensie te sien

Die skoonheidshuis Chanel se splinternuwe advertensie-veldtog met Marilyn Monroe is hier! En die ikoniese aktrise en skoonheid, wat in 1962 oorlede is, lyk én klink fantasties waar sy met ’n joernalis oor die ewe ikoniese parfuum Chanel No. 5 gesels.

In die advertensie hoor ons op ’n klankopname van ’n onderhoud met die destydse redakteur van Marie Claire, Georges Belmont, hoe Marilyn vertel Chanel No. 5 is al wat sy dra wanneer sy gaan slaap.

FOTO: Ed Feingersh © Michael Ochs Archives / Getty Images

FOTO: Ed Feingersh © Michael Ochs Archives / Getty Images

Kyk hier na die advertensie!

Chanel No. 5 het ’n geskiedenis van ikoniese advertensies. Byna tien jaar gelede het dié skoonheidshuis die aktrise Nicole Kidman en regisseur Baz Luhrmann gevra om ’n advertensie vir die parfuum te maak. Uiteindelik was dit ’n liefdesverhaal oor ’n bekende vrou wat verlief raak op ’n gewone man wat nie besef wie sy is nie.

Later het die Franse aktrise Audrey Tautou, wat Gabrielle (Coco) Chanel in die fliek Coco before Chanel gespeel het, in nog ’n romantiese advertensie vir Chanel No. 5 ’n vrou wat verlief raak tydens’n treinrit, gespeel.

Die volgende advertensie-treffer vir Chanel No. 5 was toe verlede jaar besluit is om ’n man die gesig van die gewilde parfuum te maak – Brad Pitt. Dié akteur gesels met die kamera oor hoe die parfuum oral is waar hy gaan!

Wat dink jy van die nuutste advertensie met Marilyn Monroe?