Jourdan Dunn, Maybelline New York se nuwe gesig
FOTO: verskaf

Jourdan Dunn, Maybelline New York se nuwe gesig FOTO: verskaf

Het jy gehoor?

Nuwe gesig vir New Yorkse skoonheidshuis

Die skoonheidshuis Maybelline spog reeds met gesigte soos die supermodel Christy Turlington en die modelle Emily DiDonato en Charlotte Free. Nou is die Britse model Jourdan Dunn ook deel van die Maybelline-familie!

Jourdan is geen vreemdeling op die loopplank nie en het al in modevertonings vir bekende modehuise soos Prada, Dior, Chanel, Alexander McQueen, Oscar de la Renta, Calvin Klein, Ralph Lauren, Louis Vuitton, Tom Ford, Marc Jacobs, Burberry, Lanvin, Hermès, Givenchy, Valentino, Jean-Paul Gaultier en nóg meer verskyn.

Jerome Bruhat, Maybelline se globale handelsmerkpresident, sê in ’n persverklaring dat Jourdan se “styl en positiewe energie” die perfekte pasmaat vir die skoonheidshuis is.

Vinnige feite oor Jourdan:

  • Haar seuntjie, Riley, het sekelsel-anemie. Dié genetiese toestand veroorsaak dat jou rooibloedselle sekelvormig is (en nié rond nie) en kan ’n hele klomp komplikasies veroorsaak.
  • Sy het aanhou modelwerk doen in modevertonings tot sy ses maande swanger was en nie meer in die klere kon pas nie.
  • Jourdan het huise in Londen én New York.
  • Sy het in die musiekvideo’s vir Beyoncé se liedjies, XO en Yoncé, gespeel.
  • Haar vriendinne sluit ander bekende modelle soos Karlie Kloss, Cara Delevingne, Joan Smalls en Chanel Iman in. Karlie is selfs Riley se peetma!