Het jy gehoor?

Nuwe kapsels vir ons gunsteling-bekendes

Elke nou en dan is jy lus om jou voorkoms te verander. Mense sê nie verniet verandering is net so goed soos ’n vakansie nie! En ’n kuif of strepies in jou hare is net die ding om jou voorkoms op te kikker. Kyk wat het dié bekendes met hul hare gedoen!

Die Hollywood-ster Hayden Panettiere (Racing Stripes, I Love You, Beth Cooper en Heroes) se heuningkleurige strepies in haar hare lyk altyd elegant op die rooi tapyt. Dié week het Hayden die gehoor verras met ’n nuwe voorkoms op The Late Night Show with David Letterman. Die Nashville-ster se hare was blonder én sy het met ’n dramatiese reguit kuif gespog. Kyk die foto’s wat sy op Twitter geplaas het van haar nuwe haarstyl.

Hayden se nuwe haarstylWie koekeloer daar?

Maar Hayden is nie die enigste bekende wat besluit het om ’n kuif te laat sny nie – Kelly Osbourne se pers kapsel het deesdae ook ’n reguit kuif! Albei dra ’n dramatiese rooi lipkleur by hul kuif om die nuwe voorkoms te komplementeer.

Kelly Osbourne se reguit kuif en rooi lippe.

Ook Michelle Obama het besluit om haar haarstyl te verander. Sy het dit egter nie gesny nie – die Amerikaanse presidentsvrou dra deesdae subtiele strepies in skakerings van koper en goud in haar hare. KYK HIER NA DIE FOTO’S VAN MICHELLE SE NUWE HAARSTYL.

Wat gaan jý hierdie somer met jou hare doen?