FOTO Instagram / @hairbyadir

Het jy gehoor?

Nuwe trend: Seesout in jou sjampoe?

Ons weet sout hou vele voordele vir jou lyf in. Die minerale in seesout kan byvoorbeeld seer spiere streel en stukkende plekke op jou vel vinniger help genees. Nou lyk dit asof dit ook vir jou hare goed kan wees. Die skoonheidswêreld gons deesdae al hoe meer oor sjampoes wat seesout bevat. Dit verrig glo wondere om fyn, plat hare volume te gee en die kopvel minder olierig te maak.

Weekend waves #style #wavyhair #blonde #hair #beauty #bbloggers

A post shared by Lee Stafford (@leestaffordhair) on

Wat is ’n seesout-sjampoe?

Sjampoes bevat dikwels natriumchloried (sout), wat as verdikkingsmiddel in die formule dien. ’n Seesout-sjampoe bevat egter growwe seesoutkorrels pleks van gewone sout, volgens Refinery29. “Seesout is propvol minerale soos magnesium, natrium en kalium, wat baie goed is vir die algemene gesondheid van jou hare, en dit skep boonop tekstuur en volume,” het die bekende Britse haarstileerder Lee Stafford aan die vrouewebblad gesê.

Die growwe tekstuur van ’n seesout-sjampoe maak dit ’n goeie afskilferaar vir jou kopvel. Dit help om dooie velselletjies, olierigheid en enige onsuiwerhede en produkoorblyfsels doeltreffend te verwyder. Buiten dat dit jou hare en kopvel behoorlik skoonmaak, help dit dat jou opknapper beter geabsorbeer word. Dit bevorder ook gesonde haargroei omdat dit die bloedsirkulasie in die kopvel stimuleer. Daarby help die groot, growwe korrels om volume te gee aan fyn hare wat maklik plat val.

Maar pasop: Moenie ’n seesout-sjampoe gebruik as jou hare baie beskadig is of as jy ’n keratienbehandeling gehad het nie. Die oormatige gebruik van ’n seesout-sjampoe kan ook moontlik jou hare van natuurlike olies stroop en jou kopvel laat uitdroog.

Het jy geweet?

Jy kan sommer self ’n seesout-sjampoe maak. Meng net elke nou en dan ’n eetlepel growwe seesout by jou sjampoe en masseer dit in jou hare in. Die korrels los dan op en was saam met jou sjampoe uit.

Of probeer dié unieke seesout-sjampoe uit die natuurlike produktereeks Lush – Lush Big Sea Salt Shampoo (R225).

Wat dink jy?

Sal jy ’n seesout sjampoe gebruik?

  • Ja
  • Nee

 

Bronne: www.refinery29.com, www.dailymail.co.uk

Lees nou

Aktrise Dakota Johnson se maskara-geheim

Pinterest se gewildste lipkleur vir bruide