Het jy gehoor?

Plooie 101

Een van die eerste tekens van veroudering is plooie en fyn lyntjies wat op jou gesig begin wys. Maar wat veroorsaak dié lyntjies in jou vel? En vir watter produkbestanddele kan jy uitkyk wat die voorkoms daarvan sal verminder? Idalette de Villiers, Kaapse streeksbestuurder van die plaaslike velsorgmaatskappy Optiphi, verduidelik:

Wat veroorsaak plooie?

Daar is twee dinge wat veroorsaak dat jy begin plooie kry: Biologiese veroudering en eksterne faktore.

Biologiese veroudering gebeur met almal. Soos wat jy ouer word, begin jou selle stadiger funksioneer. Dit is ’n natuurlike ding. Sodra jou selle stadiger begin werk, vervaardig dit minder kollageen wat veroorsaak dat jou vel:

  • Elastisiteit verloor en nie meer ferm lyk nie
  • Dunner lyk
  • Minder plomp is
  • Stadiger herstel

Saam met biologiese veroudering is daar ander faktore wat dié proses vinniger maak. Gelukkig kan jy dié faktore beheer om te voorkom dat jy ouer lyk as wat jy regtig is:

  • Son: Te veel blootstelling aan die son veroorsaak meer vrye radikale, wat selle in jou vel aftakel.
  • Rook: Dié gewoonte breek vitamien C, wat die fibroblaste in jou selle stimuleer om kollageen te vervaardig, af.
  • Inflammasie: Wanneer jou vel homself wil beskerm teen dinge wat dit as skadelik beskou, soos middels wat vel irriteer, besoedeling en te veel sonblootstelling, veroorsaak dit inflammasie. Dit lei dan daartoe dat elastien, kollageen én hialuronsuur (die natuurlike vog in jou vel) afgebreek word.
  • Stres
  • Slaap: Jou vel herstel homself in die nag terwyl jy slaap. Te min slaap kan die vorming van plooie versnel. Idalette stel ook voor dat jy liewer ’n satyn-kussingsloop gebruik omdat dit sorg dat geen lyne op jou vel vorm terwyl jy slaap nie en só voorkom dat plooitjies vorm.

Watter bestanddele werk om die voorkoms van plooie te verminder?

Volgens Idalette help die volgende bestanddele wat in skoonheidsprodukte voorkom om die voorkoms van plooie en fyn lyntjies te verminder:

  • Retinol (vitamien A): Dié bestanddeel moedig jou selle aan om kollageen te vervaardig, wat veroorsaak dat vel plomp lyk en plooie minder diep is. Soos wat jy verouder, hernu jou vel al hoe minder en skei dit ook minder dooie selle (wat toksiene en melanien bevat) af, wat vel vaal laat lyk en porieë kan verstop. Retinol bevorder die beweging van dooie selle na die oppervlak van jou vel en normaliseer die proses. As jy ’n produk met retinol gebruik, is dit noodsaaklik om daagliks ‘n sonskerm met SBF 30 of hoër aan te wend.
  • Antioksidante: Dit beveg vrye radikale, werk inflammasie teen en help dat jou vel stres beter hanteer.
  • Salisielsuur: Dit werk as ’n afskilferaar en verwyder dooie selle op jou vel se oppervlak. Só kan die aktiewe bestanddele in jou produkte beter geabsorbeer word en hul werk beter verrig.

Hoe moet my velsorgroetine lyk?

Idalette stel voor dat jy die volgende produkte gebruik om jou vel op sy beste te laat lyk:

In die dag:

’n Seepvrye reiniger met salisielsuur: Dit sal voorkom dat vel uitdroog (wat die voorkoms van plooie beklemtoon) en verwyder dooie selle.

’n Goeie dagroom met retinol, antioksidante, anti-inflammatoriese eienskappe en ’n sonbeskermingsfaktor (SBF).

Sonroom. Idalette beklemtoon dat jy jou sonroom elke twee uur moet opknap as jy gereeld in die son is.

In die aand:

Jou vel herstel homself deur die nag en dit is nodig dat jy juis dán produkte gebruik wat dié proses aanhelp. Gebruik ’n nagroom wat juis die proses bevorder én sorg vir hope vog.

Ekstra produkte:

  • Gesigmasker een keer per week: Kies een wat superbevogtigend is.
  • Oogroom: Kyk vir ’n formule wat jou spesifieke probleem takel (bv. donker kringe, pofferigheid, fyn lyntjies) en wat sorg vir baie vog en kollageen-vervaardiging stimuleer.
  • Afskilferaar twee keer per week: Dié stap is baie belangrik vir teenveroudering. Lees hier meer daaroor.