img_1741
Het jy gehoor?

SARIE beantwoord jóú skoonheidsvraag: Hoekom moet jy oogroom aanwend?

Vraag: Sommige mense sê jy moenie room direk onder jou oë aanwend nie. Is dit waar? - Beatrix Bruwer

Sonette Donker, kommunikasiebestuurder van Dermalogica, antwoord:

Dit is ’n ouderwetse skoonheidswenk. Omdat vogrome in die verlede ontsettend ryk was met baie kleur- en geurmiddels, het dit die sensitiewe vel rondom jou oë maklik irriteer. Vogrome is soms ook olierig en kan die dun, sensitiewe vel om jou oë pofferig laat lyk. As jy ’n sensitiewe vel het, kan jy boonop ’n allergiese reaksie kry. Hierdie is die redes hoekom vroue jare gelede nie room rondom hul oë gesmeer het nie.

Vandag is daar egter oogrome wat spesiaal ontwikkel is vir dié sensitiewe deel van jou gesig. Dit is minder olierig en ligter as ‘n gewone vogroom en daarom irriteer dit nie die vel rondom jou oë nie, maar bevog dit steeds. Oogrome bevat dikwels ook ‘n sonskerm en ‘n tikkie kleur om die donker kringe onder jou oë te verbloem.

Sonette se oogroom-wenke

  • Moenie te veel oogroom op ’n slag aanwend nie. ‘n Vuurhoutjiekop-hoeveelheid is genoeg.
  • Kyk uit vir oogrome wat silikon bevat as jy in jou dertigs is, want dit laat fyn lyntjies onmiddellik glad lyk.
  • Kies ’n produk met hialuronsuur – dit bevog die vel om jou oë.
  • Bestanddele soos sink-oksied en titanium-dioksied weerkaats sonstrale weg van die vel rondom jou oë.
  • Jou oogroom wat jy gedurende die dag aanwend, moet ’n sonbeskermingsfaktor (SBF) van minstens 15 hê om jou vel teen die son te beskerm.