Het jy gehoor?

Skoonheid nuus – September 2009

Glans geur, glansvrou

Sienna Miller is die gesig van Boss Orange (R550 vir 75 ml EDT) – ’n warm, gemaklike geur met vars note soos appel, vanielje en sandelhout.

Naomi Watts speel die engel vir Angel Sunessence (R780 vir 50 ml EDT) – die somer-weergawe van hierdie gewilde vanielje-parfuum.

My gunstelinge
1 As my vel vinnig gloeiend moet lyk, is Yves Saint Laurent Top Secrets Flash Radiance Skincare Brush (R455) die antwoord. Ek gebruik dit onder my vogroom of as ’n masker voor ek uitgaan. Die koringproteïene knap gou my vel se voorkoms op.

2 Ek hou ’n veluitslag in toom met Neutrogena Visibly Clear Spot Stress Control Hydrating Spot Treatment
(R220). Die groentee en komkommer kalmeer rooiheid dadelik.

Nog kersies om dood te blaas
Dis nie net SARIE wat verjaar nie . . . Edgars is vanjaar 80 jaar oud. Om dit te vier gee La Mer
een handgekerfde houtboksie weg by elke Edgars-winkel wat ’n La Mertoonbank het. Hierdie seeskulpboksie (daar’s net 50 wêreldwyd!) is deur sir David Linley ontwerp om die 60 ml-pot Crème de la Mer in te bêre. Koop in September ’n La Mer-produk by Edgars om in aanmerking te kom.


Nuut op die rak

Toe Coco Chanel in 1926 haar beroemde swart rokkie ontwerp het, het sy vroue die kans gegee om vroulik te wees buite die konvensies van hul tyd. Nou vier Peter Philips, Chanel se wêreldwye kreatiewe grimeerdirekteur, die kleur swart met sy nuwe Noirs Obscurs versameling. Die Diabolic-naellak
(R260), ’n diep rooiswart met granaatsteen, beloof om hier en oorsee supergewild te wees.