Het jy gehoor?

Skoonheidswêreld groet ‘n legende

Evelyn se lewensverhaal is een van groot sukses. Haar gesin het gedurende die Tweede Wêreldoorlog uit Oostenryk na New York gevlug. Ná haar studies het sy vir ’n paar jaar skool gegee, maar toe sy in 1959 met Estée en Joseph Lauder se seun, Leonard, getroud is, het sy by hul familie-onderneming aangesluit. 

Sy het weggespring as Estée Lauder se bemarkings- en direkteur van nuwe produkte, en deur die jare het sy talle bydraes tot die maatskappy en die skoonheidsbedryf gelewer. In 1989 is sy bevorder tot die senior korporatiewe adjunkpresident en die hoof van geurontwikkeling. Hier was sy onder meer aan die stuur met die ontwikkeling van Estée Lauder-parfuums soos Beautiful en Pleasures. 

Een van die grootste suksesse in Evelyn se loopbaan is sekerlik haar insette tot die stigting van die Estée Lauder Companies Breast Cancer Awareness Campaign en die pienk strikkie in 1992 as simbool van borskanker-bewustheid.

“Evelyn het die hart en siel van Estée Lauder Companies verpersoonlik. Sy was een van die vernaamste argitekte van ons visie, waardes en kultuur. Sy was dinamies, slim, warm, vrygewig en het ’n gawe gehad om met mense te kon werk. Haar entoesiasme was aansteeklik,” sê Fabrizio Freda, die president en uitvoerende hoof van Estée Lauder Companies.