FOTO: Instagram (@lorealparisusa)

FOTO: Instagram (@lorealparisusa)

Het jy gehoor?

Supermodel nuwe gesig van bekende skoonheidshuis

Die Amerikaanse supermodel Karlie Kloss is pas aangewys as die nuwe gesig van die skoonheidshuis L’Oréal. En met haar unieke styl, energieke persoonlikheid en ambisieuse ondernemingsgees is sy ’n perfekte keuse vir dié rol.

“Karlie is vir seker die perfekte kombinasie van grasie, intelligensie en harde werk. L’Oréal Paris wil vroue inspireer om hul volle potensiaal te bereik,” sê Cyril Chapuy, internasionale handelsmerk-president van L’Oréal Paris.

Die 22-jarige Karlie se weghol-sukses as model het op 14 begin toe sy tydens ’n modevertoning vir liefdadigheid in haar tuisdorp ontdek is. Kort daarna het sy vir die modehuis Calvin Klein op die loopplank verskyn. Vandag word sy beskou as ’n ikoon vir haar generasie en het sy al vir modehuise soos Marc Jacobs, Victoria’s Secret en Chanel op die loopplank verskyn. Boonop het sy in 2012 ’n sake-kursus in media, vermaak en sport aan die spoggerige Harvard in Massachusetts voltooi.

Karlie Kloss is óók die gesig van ’n splinternuwe parfuum

“Ek glo nog altyd dat jy vertroue in jouself moet hê. Enigiets kan gebeur as jy hard daarvoor werk. Vir my is dít wat L’Oréal Paris doen,” het Karlie oor haar nuwe rol gesê. Sy glo in skoonheid wat van binne en buite straal en beskou Audrey Hepburn as haar skoonheidsikoon. “Sy het so maklik van ’n vroulike na ’n tomboy-voorkoms verander en was ’n ware tydlose skoonheid.”

Met dié aankondiging volg Karlie in die voetspore van bekendes soos Blake Lively, Lara Stone en Eva Longoria.

Modelle verskyn sonder grimering op loopplank – lees meer!

4 Vrae aan Karlie oor skoonheid:

Wat beteken L’Oréal se slagspreuk “Because You’re Worth It” vir jou?

Dit gaan daaroor om onafhanklik te wees en jou eie pad uit te kerf.

Sonder watter skoonheidsproduk kan jy nie leef nie?

Ek kan nie sonder my vogroom lewe nie. Ek gebruik ook ‘n serum wat my vel voed.

Hoe hou jy jou vel gesond?

Ek bevog my vel elke oggend en aand en reinig dit altyd vóór bedtyd! Dis ook belangrik om jou vel elke nou en dan ’n afdag te gee sodat dit kan asemhaal.

Wat is jou grootste skoonheidsgeheim?

Om na jouself te kyk van binne en buite is so belangrik. Om gesond te eet en gereeld te oefen help my om mooi, sterk en vol selfvertroue te voel.

1-2-3 grimering