FOTO: Facebook

Het jy gehoor?

Supermodel se haarproduk-reeks

Een van haar bekendste eienskappe is haar goue lokke, en nou het die bekende supermodel Claudia Schiffer met Schwarzkopf kragte saamgespan om ’n reeks haarprodukte te skep.

Die reeks, Essence Ultime, bestaan uit sjampoes, opknappers, maskers, olies en ander produkte wat jou hare volume gee, die kleur beskerm, mooi laat blink en herstel. Daar sal ook ’n paar tuis-haarkleure wees – selfs een in Claudia se haarkleur!

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

Dié Duitse model is al vir sowat 25 jaar ’n model en het haar kennis van haarstilering wat sy oor die jare opgedoen het ingespan om die reeks saam met Schwarzkopf te ontwikkel. Sover is daar nog nie planne om dié reeks Suid-Afrika toe te bring nie, maar ons hou duim vas!

Claudia het in die 1990’s bekend geword toe sy as die Guess Jeans-meisie aangewys is en in hul veldtogte verskyn het. Sy was ook die gesig van die modehuis Chanel en het in veldtogte vir Yves Saint Laurent en Dolce & Gabbana verskyn. Boonop was sy al op meer as 100 tydskrifvoorblaaie, onder meer dié van Vogue, Harper’s Bazaar, Elle en selfs Time!