sr1009skoonheid_20_
Het jy gehoor?

Waaghalsig met rooi

Sommige skoonheidshuise wys selfs op die verpakking watter rooi by watter haarkleur sal werk om al die raaiwerk uit die soektog te neem. Grimeerkunstenaar Liz van der Merwe verduidelik: “As jy donker hare het met ‘n koelerige ondertoon, soos swart, bruin, rooibruin en selfs asblond, is warmer oranje-rooie vir jou.

Goue of blonde lokke met brons- en kopertone sal weer tot hul reg kom met kersie-rooie of rooie met ‘n blou ondertoon.”

Liz vertel dat ‘n tekstuur iewers tussen glans en mat hierdie seisoen op almal se lippe gaan wees: “Druk jou rooi sommer met jou vinger op jou lip en tik dan met jou vinger oor jou hele lip om die rooi eweredig te versprei – dit sorg vir kleur sonder om oordonderend te wees. Eindig met ‘n bietjie lipglans of lipsalf bo-oor om jou lippe vogtig te hou.”

Blondines sal hou van L’Oréal Color Riche Made For Me Intense Blondes in Red Passion (R119,95), wat ook ’n bypassende naellak het. Of eksperimenteer met Yardley Longwear Lips in Strawberry Daiquiri (R89,95) of Clinique High Impact Lip Colour SPF15 in Red-y to Wear (R190).