Michelle Botes kry haar eie haarkleur!

Deur Mariska van Rooyen, SARIE - Julie 2009

Michelle Botes vertel dat haar hare nog altyd gehelp het om 'n storie te vertel: in Konings was sy blond om Santie te speel, in Arende die donkerkop eilandmeisie Princess en in Isidingo die vurige rooikop Cherel.

“Jou hare vertel 'n storie, dis 'n baie emosionele ding,“ sê Michelle.

”As jy flirt, vat jy daaraan. As jy deur 'n egskeiding gaan of na verandering soek, is dit die eerste plek waar jy dink om 'n verandering te maak – gewoonlik sny vroue hul hare en mans laat dit (en hul baarde!) groei.”

Sy vertel dat haar karakter in Binnelanders (waar sy tans 'n vaste kontrak het) onlangs kanker gehad het en ook hiér was die uitgedunde hare deel van haar karakter se emosionele reis. Noudat Ingrid (haar karakter in Binnelanders) dié stryd oorwin het, was dit tyd om dit kop toe te vat met 'n nuwe kleur.

“Sy moes vir die wêreld wys sy het haar fight terug,” sê sy.

Dis ook tóé dat Garnier Nutrisse Cream haar gevra het om die gesig van hul nuwe Irresistible Berry-kleur te wees. Dié haarkleur bevat avokado-olie wat jou hare bevog en 100% met grys hare klaarspeel!

Maar hoe voel sy self oor grys hare?

“Ouderdom is net soos die lewe, dis vir my 'n reis – nie iets waarvoor ek bang is nie. Wanneer die tyd kom, wil ek my hare grys dra. Ek het klaar 'n hele paar!”

Vir haar gaan die lewensreis eerder oor of jy nog 'n sin vir avontuur het: “Dit gaan oor of jy nog nuuskierig is oor die lewe; of jy nog wil deelneem en ontdek. Om nie afgestomp, hard of sinies te raak nie,” glo sy.

Oor die Irresistible Berry-kleur is sy mal: “Ek hou van die vastigheid van brunet wees. Hierdie kleur het warm skakerings en net hier en daar 'n tikkie rooi,” sê sy.

Sy glo deel van die rede waarom vroue háár spesifieke haarkleur sal koop, is omdat hulle haar al soveel jare ken en vertrou: “Ek is iemand wat al geleef het, ek kan myself vereenselwig met daardie real-aspek van vrouwees.”

Dis duidelik dat sy nog glad nie haar eie sin vir avontuur verloor het nie: “Ek dink om nog iewers 'n groot verandering te maak. Ek is mal oor die natuur en ek wil meer berge sien. Ek wil rotsklim en valskerm spring. Ek wil meer speel en skryf. Ek wil Japan toe gaan en vir 10 dae in 'n woud saam met die monnike bly.”

Minki Visser en Jeannie D het ook hul eie haarkleure in die Garnier Nutrisse-reeks.

Michelle in 'n episode van Binnelanders:


Verwante artikels

Galery

  • Michelle Botes: die nuwe gesig van Garnier Nutrisse
  • Garnier Nutrisse Irresistible Berry

Kommentaar

  • Hi ek is Charissa Nel... Ek dink die haarkleur en haarstyl is die mooiste een wat sy nog ooit gehad het... As ek groot is gaan ek my hare daai kleur maak en ook in die styl sny... Maar ek is nou eers 12 en sal nog 'n hele rukkie moet wag... En baie geluk met jou Verjaarsdag die 12de Okt... Hoop jy het 'n wonderlike dag gehad...

    24ste Okt. 2009, 13:39
  • ABSOLUUT FANTASTIES! SY LYK ASEMROWEND EN EK IS BAIE BLY VIR HAAR DAT SO IETS OOR HAAR PAD GEKOM HET! BAIE GELUK.

    29ste Jul. 2009, 01:54
  • Dit lyk pragtig - soos Michelle het ek ook onlangs die donker roete gevolg tot op die wortels wat 'n reen van komplimente meegebring het.

    27ste Jul. 2009, 19:10
  • Ek dink sy is n pragtige vrou en ek is mal oor haar haarkleur in binnelanders - wens net ek kon iemand kry wat my hare soos hare wil knip! Ek is 61 jaar jonk en voel nog net soos sy oor die lewe!!!!!!

    22ste Jul. 2009, 10:31

Web Development by FormFunction