Skoonheid

Justin en Taylor se parfuums wen groot!

Die sangers Justin Bieber en Taylor Swift het met die onlangse FiFi-toekennings in New York net weer bewys dat hulle van die wêreld se suksesvolste jong sterre is. By die Amerikaanse toekenningsaand (Arabië, Frankryk, Rusland en Brittanje het elk hul eie FiFi-toekennings) is albei beloon vir hul bydrae tot die parfuumwêreld.

Justin het met twee pryse weggestap – sy geur Girlfriend is aangewys as die verbruikersgunsteling van die jaar én as die gewildste parfuum onder vroue in Amerika.

Maar Taylor Swift was die een op almal se lippe – sy het die Noord-Amerikaanse toer vir haar nuutste album, Red, spesiaal onderbreek om New York toe te kom vir die geleentheid, skryf Premium Beauty News.

Taylor se eerste twee parfuums - Wonderstruck en Wonderstruck Enchanted.

Sy het haar toekenning vir “Fragrance Celebrity” in ’n pragtige wit rok deur Emilio Pucci ontvang. Dié prys vereer ’n bekende wat die wêreld van parfuum verder verbeter het.

LINKS: Foto’s van Taylor Swift se eerste twee parfuums – Wonderstruck en Wonderstruck Enchanted – wat sy op Twitter gedeel het.

Albei sterre het nou ook ‘n derde parfuum beskikbaar. Ons sien op haar webblad Taylor by Taylor Swift het middel Junie oorsee begin verkoop, en Justin het onlangs getwiet dat sy nuwe parfuum, Key, vanaf Julie op die winkelrakke sal wees. Hou SARIE.com dop vir nuus oor wanneer dié geure Suid-Afrika toe kom.

Kyk hier na die eerste advertensie-video van Taylor se nuwe parfuum!

Ander parfuums wat op dié jaar se FiFi-toekennings beloon is, was Florabotanica Balenciaga Paris, Elizabeth Arden Red Door, Giorgio Armani Acqua di Giò Essenza, Tom Ford Noir en DOT Marc Jacobs.

Key, Justin Bieber se nuutste parfuum, is vanaf Julie oorsee te koop.

BO is Justin se nuutste parfuum, Key.

Gaan lees meer oor dié aand op die Fragrance Foundation se webblad.