Mooimaak

Nuwe grimeervoorkoms met net 2 produkte

Grimeer jy dag in en dag uit dieselfde? Wees waaghalsig en eksperimenteer met iets nuuts. Deur net twee produkte reg te kombineer kan jy ’n nuwe, vars voorkoms skep. Will Malherbe, internasionale opleidingshoof van die grimeerhuis Smashbox, vertel hoe…

 

Vir ’n moderne dagvoorkoms

Wen-kombinasie: Basislaag vir oë (lid primer/shadow primer) + ’n bruin oogpotlood

Soms is minder inderdaad meer. Eenvoudige ooggrimering kan die ster van jou grimeervoorkoms wees en al die aandag trek. Begin deur ’n basislaag vir jou oë oor jou boonste ooglid te skakeer. Kies ’n skakering wat na aan jou velkleur is. Die basislaag laat jou oë onmiddellik helderder lyk, sê Will. Trek dan ’n lyntjie teenaan jou onderste wimperlyn met ’n sagte bruin oogpotlood en skakeer (smudge) dit met ’n kwassie totdat dit rokerig lyk. Moenie enige oogpotlood teenaan jou boonste wimperlyn trek nie. Wend net ’n laag of twee maskara aan jou wimpers. Omdat daar geen ander grimering op jou boonste ooglid is nie, kan jy elke wimperhaartjie van die wortel tot die punt mooi sien en lyk jou wimpers dus langer.

 

Vir ’n glansryke voorkoms

Wen-kombinasie: Sonsondergang-kleure op jou oë + ’n helder lipkleur

Oogskaduskakerings in oranjerooi, roes, bruinrooi en wynrooi is tans ’n groot gier in die skoonheidswêreld, sê Will. Kies een van dié kleure (of ’n kombinasie daarvan) en skakeer dit sommer met jou vinger oor jou boonste ooglid totdat dit uitgewas lyk. “Kombineer dit met ’n helder of donker lipstiffie wat jy nog altyd te bang was om te dra. Moenie jou te veel daaroor bekommer dat die lipstiffie-skakering by jou ooggrimering hoef te pas nie. Soms is ’n grimeervoorkoms so verkeerd dat dit eintlik reg is.” Kies ’n lipstiffie met matafwerking, want dit laat dunner lippe voller lyk, stel Will voor.

 

Vir ’n bietjie drama

Wen-kombinasie: Lipstiffie + mode-bykomstigheid in dieselfde kleur

Jy hoef nie bang te wees vir “matchy-mathcy” nie, sê Will. Wanneer jou lipstiffie-skakering by óf jou handsak óf jou gordel of selfs jou baadjie of hemp pas, kan dit baie mooi lyk. Dít is die moderne weergawe van kleurblok (colour blocking). “Probeer ’n purperrooi (magenta) lipstiffie saam met ’n purperrooi handsak. Hoekom nie? Maar moenie mal gaan nie. Kies net een mode-item om by jou lipkleur te pas,” sê Will. Ongewone skakerings vir jou lippe soos grys en blou is nou groot nuus. Dra bv. ’n ligblou lipstiffie saam met ’n denimbaadjie of grys lipstiffie saam met ’n grys handsak. Maar onthou om altyd grys saam met ’n helder kleur te kombineer en trek bv. ’n helderpienk hemp daarmee saam aan, verduidelik Will. “Vee ook ’n tikkie verbronser oor jou wange om kleur aan jou gesig te gee.”

#regram @elenakrygina @davisfactor @loritaylordavis #smashbox #belegendary #skinnyjeans #fairplay

A photo posted by Will Malherbe (@willmalherbe) on

 

Basislaag vir jou oë: Inglot Eye Shadow Keeper (R369). Beskikbaar by uitsoektakke van Edgars en losstaande Inglot-winkels

Bruin oogpotlood: L’Oréal Paris Infaillible Stylo Eyeliner 24 Waterproof Eyeliner in Chocolate Addiction (R160)

Oogskadupalet: Chanel Le Rouge Collection No. 1 Les 4 Ombres Candeur Et Expérience (R920)

Donker lipstiffie: Maybelline Vivid Matte Liquid in Possessed Plum (R110)

Grys lipstiffie: Smashbox Be Legendary Lipstick in Punked (R280)

Lees nou

Het jy al gehoor van Dressember?

Dié vreemde grimeerkussinkie het die internet op hol