Ons hou van

5 haarstyle wat nét 7 minute sal neem

Die vakansie is verby en die nuwe jaar in volle gang. Skielik is jou oggende so besig dat jy skaars tyd kry om jou hare en grimering te doen. Hiér’s jou oplossing! Ons deel vyf haarstyl-idees van bekendes waarmee jy binne sewe minute ’n mooi en moeitelose haarstyl vir die dag kan skep, maak nie saak wat die geleentheid is nie.

1. Hare agter jou ore

Of jy kort of lang hare het, om bloot jou hare agter jou ore vas te steek skep onmiddellik ’n professionele en stylvolle voorkoms. Gebruik ’n haarstileringsproduk wat jou hare gladder maak en kroeserigheid tem en steek dit dan agter jou ore.

Michelle Williams

 

2. Deurmekaar poniestert

Gee ’n vervelige poniestert hope volume. Wend ’n haarstileringsproduk wat volume skep, soos ’n soutsproei, op jou hare aan. Maak dan jou hare in ’n poniestert vas en krap dit deurmekaar. Hou die styl in plek met hope haarsproei.

Margot Robbie

 

3. Halwe knoop-bolla

Maak die boonste helfte van jou hare in ’n deurmekaar knoop-bolla vas en hou die res van jou hare los. Trek dan liggies ’n paar stringe hare rondom jou gesig uit vir ’n romantiese voorkoms.

Diane Kruger

 

4. Sjiek lae poniestert

Vir ’n meer formele kantoor-voorkoms, maak jou hare in ’n lae poniestert of bolla vas. Gebruik ’n haarstileringswaks om jou hare by jou kroon glad en glansend te maak.

Sophia Bush

 

5. Versier met ’n haarband of -knip

Vir die dae wanneer jy nie lus is om baie tyd aan jou hare te spandeer nie, is ’n haarbykomstigheid perfek. Dra jou hare los of vas en tooi dit in ’n kits met ’n haarband of -knip.

Eva Mendes

Lees nou

3 SA bekendes deel hul DIY-skoonheidswenke

Kweek in 2017 dié skoonheidsgewoontes