Ons hou van

5 top-produkte vir droë, bros naels

Winter se koue dae is ’n goeie tyd om jou naels te pamperlang. Volg ons wenke en probeer dié produkte vir sterker, gladder en helderder naels.

Naelprodukte met voedingstowwe om jou vinger- en toonnaels te versterk, fyn groefies op te vul en selfs vlekkies te verwyder, is die afgelope paar jaar al hoe gewilder. Dís danksy die neiging na naels wat gesond en goed versorg lyk en wat met meer natuurlike en deursigtige skakerings spog.

Koningin Elizabeth vs die Obamas

Volg dié wenke:

* Wend gereeld ’n kutikel-olie aan jou vinger- en toonnaels en masseer dit in om jou naels en naelvelletjies te voed en te bevog. Massering help om die bloedsirkulasie na jou naels te bevorder. Beter bloedsirkulasie sorg dat meer suurstof en voedingstowwe jou naels bereik.

* Pas op om ’n naelkleur té lank aan jou vinger- en toonnaels te hou. Die chemikalieë in naellak kan, as dit te lank aanbly, veroorsaak dat jou naels geel gevlek word.

* Wanneer jy bad of stort, gebruik ’n ou tandeborsel met ’n bietjie lyfseep om vuilheid en dooie velletjies te verwyder wat rondom en onder jou toonnaels opbou.

Probeer dié top-produkte:

1. O.P.I Original Start To Finish Base Coat, Top Coat & Strengthener (R294)

’n Alles-in-een naelproduk! Dié deursigtige naellak kan as ’n basislaag en boonste laag gebruik word, terwyl die formule ook jou naels versterk en voed.

2. Scholl Velvet Smooth Nail Care Oil (R140)

Dié nuwe naelolie is ’n mengsel van sewe voedende olies. Masseer dit saans in jou naels en kutikels in.

3. essie Fill The Gap Anti-Age Treatment (R139)

Danksy keratien en bamboes-ekstrak help dié naelbehandeling onder meer om enige fyn groefies op jou naels op te vul. Dit sorg vir ’n egalige, blink naeloppervlak. Wend dit as ’n basislaag onder jou gunsteling-naelkleur aan.

4. Locycare Nail Gel (R170). By Dis-Chem

Sekere chemikalieë in naellak kan jou naels geel vlek as jy die kleur te lank op jou naels hou. Dié naeljel bevat ’n kombinasie van bevogtigende bestanddele wat help om die natuurlike waterbalans van jou naels te verbeter. Dit sorg vir gesonder naels en verminder vlekke en merkies.

5. Sorbet Love Me Long Growth Care (R80). By Clicks

’n Kragtige kombinasie van roos-stamselle, arganolie en vitamien A,B,C en E help om bros naels te versterk en te voorkom dat dit maklik kraak of skeur. Dit sorg ook vir gesonde naels wat jonger lyk en vinniger groei. Wend daagliks twee lagies aan jou skoon, droë naels. Jy kan dit ook as ’n basislaag of boonste laag oor jou naelkleur aanwend.

Victoria Beckham bieg: My mikrofoon was af…