sr1202_gesond_cover_06
Ons hou van

Alles oor gesigbehandelings (facials) + ons toets een

Nes ons gereeld moet oefen of die haarsalon besoek, is dit belangrik om jou vel goed op te pas. ’n Gereelde gesigbehandeling (facial) kan wondere vir jou vel verrig, volgens Angela Broadley, ontwikkelingsbestuurder van die velsorghuis Elemis.

Wat behels ’n gesigbehandeling?

’n Basiese gesigbehandeling behels gewoonlik dat jou skoonheidsterapeut jou gesig reinig, afskilfer, masseer, ’n gesigmasker aanwend en jou vel bevog. Na gelang van die skoonheidsalon, terapeut of velsorgreeks kan ekstra stappe bygevoeg word wat onder meer arm-, nek- en oogmasserings insluit.

Velsorg: Lyk en voel mooier

Wat is die voordele?

Verskeie velsorgkwale soos aknee, plooie, ’n droë of olierige vel of ’n vel wat deur stres of jou leefstyl beïnvloed is, kan deur ’n gesigbehandeling aangespreek word. Dit berei ook jou vel voor vir seisoenveranderinge. Tydens die wintermaande kan so ’n behandeling ’n broodnodige voginspuiting bied, terwyl dit tydens die warmer seisoene kan help om aknee te voorkom.

Verskeie velsorgkwale soos aknee, plooie, ’n droë of olierige vel of ’n vel wat deur stres of jou leefstyl beïnvloed is, kan deur ’n gesigbehandeling aangespreek word.

Op watter ouderdom moet jy met gesigbehandelings begin?

Volgens Angela kan jy reeds op 16 begin. Jou ouderdom bepaal watter tipe behandeling jou skoonheidsterapeut sal doen.

Tydens jou tienerjare: ’n Antibakteriële en anti-inflammatoriese behandeling sal gedoen word. Die terapeut kan ook knoppies uitdruk, wat gevoelig is en rooi kolle op jou vel sal los.

Tydens jou twintigerjare: Jou vel ervaar in dié stadium die meeste spanning wat deur stres en ’n besige leefstyl veroorsaak word. Gesigbehandelings ryk aan antioksidante sit die  nodige vitamiene en minerale terug in jou vel.

Tydens jou dertiger- en veertigerjare: Gesigbehandelings wat vroeë tekens van veroudering en later plooie en groot porieë beveg, sal tydens dié jare gebruik word.

Vyf-en-vyftig jaar en ouer: Behandelings wat die spiere in jou gesig verleng en versterk sal verseker dat jou vel jeugdig lyk en nie “hang” nie. Omdat jou vel nou geleidelik begin verdun, waarsku Angela om nie van dié ouderdom af meer vir diep afskilferingsbehandelings (peels) te gaan nie – dit sal jou vel net nog dunner maak.

Alles wat jy van diep afskilferingsbehandelings (peels) moet weet

Hoe gereeld moet jy vir ’n gesigbehandeling gaan?

Jy kan elke drie weke gaan. Dis egter nodig om die tipe gesigbehandeling en die produkte wat gebruik word af te wissel omdat jou vel gewoond kan raak aan spesifieke behandelings, wat sal maak dat die behandeling minder doeltreffend is.

 Hoewel ek skrikkerig was vir die masjien-tegnologie wat gebruik is, was Elemis se Biotec-tegnologie glad nie pynlik nie. Dit het eerder soos ’n ligte massering gevoel.

Ons toets: Elemis-gesigbehandeling

  • Tydens die wintermaande is my vel ekstra droog. Boonop het faktore soos stres en stadsbesoedeling veroorsaak dat my vel baie “moeg” geword het. ’n Elemis-gesigbehandeling is ideaal omdat die terapeut vooraf jou vel ontleed en ook jou behoeftes in ag neem om te bepaal watter behandeling jou vel nodig het. My vel is eers gereinig, waarna Elemis se splinternuwe Elemis Biotec-masjien gebruik is om ’n ultrasoniese afskilfering te doen om dooie selle te verwyder. Daarna is ‘n jel-masker onder my oë aangewend en ‘n masker oor my hele gesig. Dié masker word dik aangesmeer en is ryk aan vitamiene en minerale om nuwe lewe aan ‘n moeë vel te gee. Ná ’n tweede masker aangewend is, is ’n elektriese stroom bo-oor die masker gebruik. Dit behels dat jou vel eers negatief gelaai word om onsuiwerhede te onttrek en daarna positief gelaai word om die bestanddele in die masker tot diep in jou vel te “stoot”. Die masker is verwyder en die terapeut het ‘n vogroom aangewend. Hoewel ek skrikkerig was vir die masjien-tegnologie wat gebruik is, was Elemis se Biotec-tegnologie glad nie pynlik nie. Dit het eerder soos ’n ligte massering gevoel. My vel was ná die behandeling stralend en ongelooflik bevog. – Monica Pienaar, skoonheidsassistent

Sorg ook vir jou hande dié winter