Ons hou van

Alles wat jy van diep afskilferingsbehandelings (peels) moet weet + ons toets ’n behandeling

Baie van ons is skrikkerig om ’n diep afskilferingsbehandeling (peel) te probeer, maar as dit reg gedoen word, kan dit wondere vir jou vel verrig.

Sonette Donker, opleidingsbestuurder van Dermalogica, vertel meer oor hierdie behandelings:

Wat is ’n diep afskilferingsbehandeling?

Jou vel word gekontroleerd ‘gebrand’ met ’n suur om sekere lae daarvan te verwyder. Verskillende aantal lae word verwyder afhangende van die tipe behandeling wat jy laat doen. Wanneer hierdie lae verwyder word, word jou vel geprikkel om nuwe, gesonde selle te vervaardig.

Wat is die voordele?

Dit verbeter jou veltekstuur, verstopte porieë en ’n gereelde veluitslag. Sommige van dié behandelings werk baie diep in jou vel en behandel plooie en lyntjies, asook sonskade en erge pigmentasie.

Jy kan sure ook gebruik om jou vel gewoonweg mee af te skilfer (exfoliate). Wat is die verskil tussen dit en ’n diep afskilferingsbehandeling?

’n Diep afskilferingsbehandeling bevat ’n hoër konsentrasie sure as ’n gewone afskilferaar en werk daarom dieper in jou vel om meer lae te verwyder.

Jou vel word gekontroleerd ‘gebrand’ met ’n suur om sekere lae daarvan te verwyder. Wanneer hierdie lae verwyder word, word jou vel geprikkel om nuwe, gesonde selle te vervaardig.

Ander verskille:

1.Jy moet ’n gewone afskilferaar langer gebruik om ’n verskil aan jou vel te sien. Met ’n diep afskilferingsbehandeling kan jy onmiddellik ’n verskil sien.

2.Wanneer jy ’n gewone afskilferaar gebruik, sien jy geen sigbare skilfering van jou vel nie. Afhangende van die tipe diep afskilferingsbehandeling wat jy laat doen, kan jou gesig sigbaar vervel.

3.Gewone afskilfering help met oppervlakkige velprobleme soos growwe tekstuur, ’n veluitslag en verstopte porieë. ’n Diep afskilferingsbehandeling takel ernstiger velprobleme soos erge pigmentasie en lyne en plooie.

4.Gewone afskilfering werk sagkens op jou vel, terwyl ’n diep afskilferingsbehandeling meer aggressief is.

Lees oor die ABC van afskilfering

Watter verskillende tipes diep afskilferingsbehandelings is beskikbaar?

Baie oppervlakkig: Die behandeling skilfer net die boonste laag van jou epidermis af.

Oppervlakkig: Die behandeling verwyder die grootste deel van jou epidermis.

Medium diepte: Hierdie behandeling bereik die boonste deel van jou dermis (die lewende deel van jou vel). Jou gesig gaan sigbaar vervel en dit gaan tyd neem om te herstel.

Diep: Hierdie behandeling penetreer so diep dat dit in ’n teater deur ’n plastiese chirurg gedoen moet word. Dit kan maande neem vir jou vel om te herstel, maar die resultate is uitstekend. Ná die prosedure moet jy gereeld jou plastiese chirurg besoek om na jou vel te kyk.

Watter tipe sure word in ’n diep afskilferingsbehandeling gebruik?

 -Hidroksisure

Glikoliese suur se molekules is baie klein en penetreer jou vel maklik. Daarom is dit ’n gewilde suur om te gebruik.
Melksuur werk veral goed vir donker vlekke (hiperpigmentasie) en hidreer ook jou vel.
Fitiensuur dien ook as ’n antioksidant.
Salisielsuur is veral goed as jy met ’n gereelde veluitslag sukkel omdat dit antibakterieel is en sebum onder beheer hou.

-Trichloorasynsuur (TCA)

Hierdie suur werk dieper in jou vel en jou gesig gaan vir ’n week of so vervel.

-Karbolsuur (Phenol)

Dis die sterkste tipe diep afskilferingsbehandeling wat beskikbaar is en werk baie diep in jou vel.

Skilfer só self stap-vir-stap af!

Watter tipe diep afskilferingsbehandelings mag ’n skoonheidsterapeut doen en watter moet deur ’n mediese dokter gedoen word?

’n Skoonheidsterapeut mag net baie oppervlakkige en oppervlakkige behandelings doen. Die hoogste konsentrasie hidroksisure in ’n behandeling waarmee ’n skoonheidsterapeut mag werk, is 30%. As jy ’n dieper behandeling wil hê, moet ’n dokter dit doen. Hulle mag met hidroksisure van 50% en meer werk, asook met trichloorasyn en karbolsuur.

Jy kan al in jou laat 20’s begin omdat jy gewoonlik dan fyn lyntjies begin sien.

Wees versigtig vir ’n diep afskilferingsbehandeling as…

-jy allergies is vir aspirien. Salisielsuur is verwant aan aspirien. Jou skoonheidsterapeut sal eers ’n veltoets op jou moet doen as die produk salisielsuur bevat.

-jy onlangs enige kosmetiese behandelings gehad het.

-jy onlangs in die son gebrand het. Jou vel kan dan te sensitief vir die behandeling wees.

-jy ’n aktiewe koorsblaar op jou lippe of gesig het. Die behandeling kan veroorsaak dat dit versprei.

-jy swanger is.

-jy medikasie soos Roaccutane gebruik. Dit maak jou vel dunner en daarom is dit nie gewens dat jy ’n diep afskilferingsbehandeling doen nie.

-jy ’n velsorgproduk met retinol gebruik omdat dit ook jou vel dunner maak. Staak die gebruik van ’n retinol-produk drie maande voordat jy ’n diep afskilferingsbehandeling laat doen.

Op watter ouderdom moet jy met diep afskilferingsbehandelings begin?

Jy kan al in jou laat 20’s begin omdat jy gewoonlik dan fyn lyntjies begin sien. Jy móét daagliks ’n goeie sonskerm aanwend as jy hierdie behandelings laat doen omdat jou vel meer sensitief is vir sonlig en makliker sal brand. Om dié rede is dit beter om diep afskilferingsbehandelings in die winter te doen wanneer jou vel minder aan die son blootgestel word.

Hoe gereeld moet jy dit laat doen?

Vir ’n ouer vel met baie pigmentasie: Een keer ’n week vir drie tot ses weke en daarna elke maand.
Vir ’n sensitiewe vel: Een keer elke drie tot vier weke.

Vir ’n aknee-vel: Een keer elke week of twee vir drie tot ses weke en daarna elke maand.
Vir ’n normale vel: En keer elke maand.
As jy elke maand ’n diep afskilferingsbehandeling laat doen, vervang dit jou maandelikse gesigsbehandeling.

« »

Ons toets: ’n Afskilferingsbehandeling

As jy ’n diep afskilferingsbehandeling oorweeg, is dit wys om met een te begin wat net die heel boonste lae van jou vel verwyder sodat jy nie met enige ongemaklikheid soos rooiheid en ’n gesig wat vervel sukkel nie. Dermaquest se Power Pumpkin Resurfacer (R450) bevat sure soos salisiel-, melk- en glikoliese suur. Dit help veral as jy geneig is om gereeld ’n veluitslag te kry omdat salisielsuur van oortollige olie ontslae raak en ontsteking verlig. Die behandeling is vinnig, sowat ’n halfuur, so jy kan dit sommer tydens jou etensuur doen. Die terapeut reinig eers jou vel en wend daarna die afskilferaar aan. Jou vel voel branderig terwyl die produk sy werk doen, maar dis gelukkig net vir sowat drie minute. Daarna gebruik sy ’n produk wat die afskilferaar neutraliseer voordat sy jou vel met serums ryk aan antioksidante bevog. My vel was ’n bietjie rooi ná die behandeling, maar dit het binne ’n halfuur verdwyn. Ek moes baie vogroom aanwend omdat my vel vir twee dae daarna ’n bietjie styf gevoel het. Maar my vel was glad en stralend. - Charis Labuschagne, Skoonheidsredakteur
Dermaquest se gesigsbehandelings is beskikbaar by Skin Renewal-salonne landwyd.