FOTO: Instagram  taylorswift

FOTO: Instagram taylorswift

Ons hou van

Bang vir rooi lippe? Aikôna, hier’s wenke!

Is jy soms bang om ’n helderrooi lipstiffie op jou lippe te dra? Moenie wees nie! Of jy helder kyk-na-my-lippe verkies of ’n sag en romantiese voorkoms, daar ís ’n rooi lipstiffie vir elkeen. Volg ons raad en kies die rooi lippe wat die beste by jóú unieke styl en voorkeure pas.

Onthou! Petrolpryse styg Woensdag

Rooi lippe met ’n mat-afwerking

Jy hou van: Treffende en gedefinieerde lippe

’n Helderrooi lipstiffie met ’n mat-afwerking is klassiek en supersjiek. Die kleur is intens en hou lank op jou lippe. Boonop voel die nuwe formules nie droog op jou lippe soos in die verlede nie. Dis eerder sag en bevogtigend.

Probeer: Elizabeth Arden se nuwe Beautiful Colour Moisturising Matte Lipstick in Bold Red (R220) of die ikoniese M.A.C Lipstick in Ruby Woo (R220)

’n Romerige rooi lipstiffie

Jy hou van: Rooi lipstiffie met subtiele glans

Lipstiffies met ’n romerige formule is sag en bevogtigend op jou lippe met ’n subtiele glansafwerking. Danksy die formule wend dié lipstiffies gewoonlik maklik aan – perfek vir wanneer jy minder tyd het om aan jou grimering te spandeer.

Probeer: Revlon Ultra HD Lipstick in HD Gladiolus (R145) of Max Factor Colour Intensifying Balm in Luscious Red (R110). By Clicks

’n Waaghalsige rooi

Jy hou van: Meer waaghalsige lippe en om te eksperimenteer met verskillende skakerings van rooi.

’n Rooi lipstiffie met ’n bruin, swart of donkerpers ondertoon is veral dié seisoen in die kol en werk goed vir ’n aandvoorkoms. Boonop pas donkerder rooi skakerings by byna alle gelaatskleure, daarom is daar geen rede om nié so ’n skakering te probeer nie.

Probeer: Chanel Rouge Coco Ultra Hydrating Lip Colour in Etienne (R505) of Avon Ultra Color Lipstick in Burnished Red (R130). Skakel 0860 102 345

Rooi en ultra-glansend

Jy hou van: Glansryke rooi lippe wat blink

Vir glansryke volkleur lippe soos Taylor Swift is ’n lipglans of helderrooi lipstiffie met ‘n blou ondertoon perfek.

Probeer: Clinique Pop Lacquer Lip Colour + Primer in Lava Pop (R285) of Dior se splinternuwe Dior Addict Lipstick in Rebellious (R615)

Gevlekte rooi lippe

Jy hou van: ’n Romantiese en meer subtiele lipstiffie-voorkoms

Vir subtiele rooi lippe, wend ’n tikkie rooi lipstiffie aan die middel van lippe aan en gebruik dan jou vinger om dit oor die res van jou lippe te skakeer. Jy kan ook ’n tikkie deursigtige lipglans (of lip-ice) bo-oor jou lipstiffie aanwend en jou lippe saampers om die kleur sagkens te versprei.

Probeer: L’Oréal Paris Infallible Matte Max Designer Lip Pen in Say My Name (R170) of Estée Lauder Pure Color Envy Liquid Lip Potion in Lethal Red (R295)

Hiér is nóg wetenskaplike redes oor hoekom jy meer rooi lipstiffie moet dra… Lees meer!

Die ware krag van rooi lipstiffie…

Vroue het reeds instinktief in antieke tye geweet daar lê krag in rooi lippe, selfs dat sommige mans dit onweerstaanbaar vind. Rooi lipstiffie word lankal nie meer net gebruik om mans se oog te vang nie. Dit wys jy is selfgeldend en help jou om die wêreld in die oë te kyk.

Dít het ’n Britse manlike luitenant-kolonel kórt ná die Tweede Wêreld-oorlog eerstehands in ’n pas bevryde konsentrasiekamp in Duitsland beleef. Volgens ’n artikel verlede jaar in die internasionale nuustydskrif Newsweek was die vroue hier se gees gebreek. Maar toe ’n groot aantal rooi lipstiffies onverwags by die kamp afgelewer word en hulle dit oor hul lippe vee, het hulle weer soos individue gevoel, nie net soos ’n nommer nie. “Daardie lipstiffie het begin om hul menslikheid vir hulle terug te gee,” het die luitenant-kolonel in ’n destydse verslag geskryf. Dit is dus nie sonder rede dat sommige vandag na rooi lipstiffie as oorlogsverf verwys nie.

Matte vs Gloss Which one you prefer? #readmylips

A photo posted by L’Oréal Paris Official (@lorealmakeup) on

Lees nou