blou_oe
Ons hou van

Blou betowering

Mense wat sê blou is hul nommereen-kleur, spog dikwels met eienskappe soos betroubaarheid, eerlikheid en kalmte. Hulle is boonop inspirerend.

Nou het die skoonheidswêreld hierdie kleur gekies om oë nuwe lewe te gee, en volgens Anne Roselt, kleurbestuurder by Plascon, is dit vanselfsprekend omdat blou dadelik die sprankel terugsit. Dis ook ‘n bietjie anders as die gewone veilige kleure soos bruin.

“Blou verlig ons stres en herinner aan die see en sy verskillende skakerings. Die kleur is soos ‘n vakansie,” sê sy.

Volgens Anne kraai blou ook koning op loopplanke, veral vuilbloue, blougroene en turkoois.

“Danksy die emosie wat die kleur ontlok en sy kalmerende eienskappe, is dit ook ‘n kleur wat nie sommer uit die mode sal gaan nie,” voeg sy by.

Grimeerkunstenaar Liz van der Merwe glo ook blou is die kleur om te beproef as jy dapper voel, lus is om te eksperimenteer of net ‘n bietjie jou kreatiewe kant wil wys. “Hierdie somer is dit veral lekker om met bloue op jou oë te speel, want vuilbloue is oral te sien en dit pas by almal.”

Volgens haar is die kleurpalet vir die somer in die algemeen ‘n bietjie “dowwer” gemaak. “Dit lyk byna asof al die kleure ‘n bietjie in tee geweek is. Dis nie so opdringerig nie,” verduidelik sy.

As jy vir die eerste keer met blou eksperimenteer, begin deur net ‘n bietjie kleur op die bal van jou oog te sit, is Liz se raad. (Met ander woorde, net ‘n tikkie op die middel van jou ooglid.)

 “Wend dan ‘n natuurlike bruinswart aan in die vou van jou oog vir definisie.”

Indien jy steeds bang is dat die kleur oorweldigend gaan wees, wend eers ’n bruinswart oogskadu oor jou hele ooglid aan tot by die vou van jou oog en tik dan ‘n bietjie vuilblou op die middel van jou ooglid.

“Blink kleure kry ook aftrek hierdie seisoen, so voltooi jou voorkoms met ‘n goue of silwerkleurige oogskadu in die binneste hoekies van jou oë,” sê Liz.

Volgens haar gee dit ‘n helder glimmer in die somerson, veral wanneer jy dit kombineer met die mat kleure op die res van jou ooglid. Haar wenk is om jou glimmerkleur na aanleiding van jou velkleur pf jou bykomstighede te kies.

“As jy ‘n bleek, romerige kleur vel het, is ‘n ligte geelgoud ideaal, terwyl silwer ‘n olyfkleurige veltoon tot sy reg sal laat kom. Andersins: As jy goue of silwerkleurige bykomstighede aanhet, kan jy jou glimmerkleur daarby laat pas.”

ELKE KLEUR het sy eie taal – dit beloof ‘n storie, ‘n behoefte en ‘n avontuur. Kleur gee jou die kans om jou eie persoonlikheid, styl en bui te weerspieël. Anne Roselt, kleurbestuurder by Plascon, vertel blou is die wêreld se gunsteling-kleur – en dit maak sin, want dié kleur verfris en hernu, en kan selfs pyn verlig!

WATTER BLOU VIR MY
Die meeste bloue sal werk by bruin en blou oë – dit hang af van die effek wat jy wil skep: van dramaties tot subtiel of tussenin. As jy groen oë het, probeer ‘n persblou of grysblou om jou voorkoms woema te gee.

4L&aposOréal Color Appeal  Trio Pro in Stay Blue
L’Oréal Color Appeal Trio Pro in Stay Blue (R145)   M.A.C Dare to Wear Eyeshadow in Winkle (R150)
Dior 1 Couleur Ultra-Smooth High Impact Eyeshadow in Chick Jean (R285) YSL Ombre Solo Lasting-Radiance
Smoothing Eyeshadow in Persian
Blue (R375)
Chanel Ombre Contraste Duo
Eyeshadow in Bleu Tendre (R415)