FOTO: Instagram  jlo

FOTO: Instagram jlo

Ons hou van

Die 8 beste haarsnitte vir vroue bó 40

Net omdat jy veertig en ouer is, beteken dit nie jy hoef ’n eenvoudige en vervelige haarstyl te hê nie. Kort, lank, glad gestryk of golwend: dié bekendes wys ons hoe om bo veertig steeds ’n moderne en jeugdige haarsnit te dra wat nie net by jou ouderdom pas nie, maar ook supersexy, elegant en stylvol lyk.

Lyk soos ’n voorbladgesig – so maklik soos 1, 2, 3

1. Langer pixie-snit

’n Pixie-snit met hare wat effens langer bo-op jou kop en by jou ore is, kan jy op meer as een manier stileer en lyk elegant. Die geheim is om jou pixie-snit nie te stringerig te laat lyk nie.

Ster-inspirasie: Sharon Stone

 

2. Bob met lae (layers)

Die bob is steeds ’n baie gewilde snit omdat dit by alle ouderdomme en haartipes pas. ’n Sjiek bob met lagies lyk modern en werk veral goed as jy fyner hare het. Vra jou haarstileerder om na gelang van jou gesigvorm jou hare kenlengte te sny as jy ’n meer langwerpige gesigvorm het, of effens langer as jy ’n meer ronde gesigvorm het.

Ster-inspirasie: Cate Blanchett

 

3. Asimmetriese bob

Dié haarsnit is meer waaghalsig, maar steeds gepas. Laat sny jou hare kort agter, terwyl die hare wat rondom jou gesig val langer gehou word. Die oneweredige lengte gee die haarstyl ’n vars en moderne voorkoms.

Ster-inspirasie: Kris Jenner

 

4. Golwende bob met ’n kuif

As jy dikker hare het, gee ’n bob wat in golwende lae gesny is jou hare hope tekstuur. ’n Kuif skep ook die illusie van meer volume by jou haarwortels en kroon.

Ster-inspirasie: Halle Berry

 

5. Golwende lob (long bob)

Het jy geweet? Golwende haarstyle met ’n strandtekstuur laat vroue bo 40 dadelik gemaklik en meer jeugdig lyk. Laat jou haarstileerder jou hare in langer golwende lagies tot net bo jou skouers sny.

Ster-inspirasie: Jennifer Lopez

 

6. Stompgesnyde lob

As jy natuurlik baie reguit hare het, is ’n lob met effens stompgesnyde punte in die kol. Steek jou hare agter jou ore in om die styl effens asimmetries te laat lyk en jou voorkoms ’n moderne kinkel te gee.

Ster-inspirasie: Amy Poehler

 

7. Net onder skouerlengte

Hare wat net onder jou skouers gesny word, lyk altyd stylvol en is bonoop veelsydig en maklik om te stileer.

Ster-inspirasie: Julianne Moore

 

8. Lang hare met lagies

Die geheim om lang hare te dra wanneer jy ouer is, is om die hare wat rondom jou gesig val in lae te sny. Dit raam jou gesig en die tekstuur wat dit skep, gee definisie aan jou haarstyl.

Ster-inspirasie: Jennifer Aniston