Ons hou van

In die skoonheidstoor: Parfuums wat ruik (en lyk) soos lente

Ons kan nie genoeg kry van die vrolike lente-gevoel nie. Daarom wys ons vandag 10 parfuums uit die SARIE-skoonheidstoor, almal met vrugte- en blomgeure en in prettige parfuumbottels.

lente parfuums

1. Thomas Sabo Charm Kiss (R795 vir 50 ml EDP): Nuut in SA – ’n gourmet-geur met note soos aarbeie, sjampanje en sjokolade wat herinner aan ’n vrolike lentedag. Die bottel kom ook met ’n gelukbringer-armband en ’n bêre-boksie wat as juweelkissie gebruik kan word.

2. Versace Bright Crystal Absolu (R1 345 vir 100 ml EDP): Hierdie parfuum is ’n meer intense weergawe van Versace Bright Crystal en bevat onder meer vrugtenote soos granaat en framboos.

3. Dolce & Gabbana Light Blue (R880 vir 50 ml EDT): Dié gewilde geur voer jou weg na luilekker dae op ’n Mediterreense strand. Met note soos suurlemoen, appel en sederhout is dié ligte parfuum perfek vir somer.

Internasionale bekendes se nuwe parfuums in SA – lees meer!

4. The Body Shop Fijian Water Lotus (R220 vir 50 ml EDT): ’n Eksotiese geur wat spog met note soos waterlelie, lemoen, roos en seelug. As jy ’n ligte parfuum verkies wat nie te sterk ruik nie, is dié geur ideaal.

5. Dior Addict Eau de Toilette (R990 vir 50 ml EDT): Voel prettig en jonk met dié nuwe toevoeging tot die Dior Addict-versameling. Kyk uit vir onder meer jasmyn- en sandelhout-note en ’n tikkie vanielje. Boonop is ons mal oor die advertensie-veldtog (kyk daarna hiér) vir die parfuum!

6. Kenzo Jeu d’Amour (R1 060 vir 50 ml EDP): Die kurwe-parfuumbottel komplementeer die vroulike note van freesia, soetemaling en tee.

7. Marc Jacobs Daisy Dream (R1 060 vir 50 ml EDT): Met hierdie parfuum sal jy voel asof jy in ’n madeliefie-veld lê. Ons is veral mal oor die ligblou parfuumbottel wat met klein madeliefies versier is.

In die skoonheidstoor: Haarprodukte vir ’n strand-tekstuur

8. DKNY MYNY (R995 vir 50 ml EDP): Met note soos framboos, iris en patsjoelie herinner dié speelse geur aan New York se lewendige en opwindende atmosfeer. Die kenmerkende ronde bottel word ook verruil vir ’n hartvormige bottel met ’n pienk parfuum.

9. Tommy Hilfiger Flower Violet (R630 vir 50 ml EDP): Lente is ’n tyd van vernuwing en dis presies wat dié parfuum vasvang. Raak verlief op note soos viooltjie, katjiepiering en framboos. Daarby spog die parfuumbottel met ’n blom wat gemaak is van pers geruite materiaal.

10. Lancôme La vie est belle L’Eau de Toilette (R865 vir 50 ml EDT): ’n Nuwe ligter weergawe van die oorspronklike geur is spesiaal vir die lente bekend gestel. Daarby is die parfuum self ’n vrolike pastelpienk kleur met note soos magnolia, amandel en vanielje.

Revolusionêre maskara is onlangs bekend gestel – lees meer!