Ons hou van

Die top-spa’s in SA – hiér’s hulle!

Die jaarlikse Les Nouvelles Esthetiques Spa-toekennings het onlangs tydens ’n spoggeleentheid SA se top-spa’s aangekondig. Die afgelope paar maande is verskeie spa’s regoor Suid-Afrika besoek om ten einde die bestes in ses afdelings te bekroon: dag-spa, hotel-spa, boetiekhotel-spa, unieke spa-konsep, safari-spa en estetiese/mediese spa.

Bobby van Jaarsveld gesels oor sy volgende filmrol

“Spa’s bied ’n kosbare wegbreek van ’n dol leefstyl. . . Dit gee aan besoekers rus, ontspanning en riglyne om hulle te help om ’n gesonder leefstyl te skep”, sê dr. Nadine de Freitas, besturende redakteur van Les Nouvelles Esthetiques South Africa.

Het jy geweet? SARIE se skoonheidsredakteur Charis van den Heever was vanjaar een van die beoordeelaars vir dié toekennings.

Vier jou ouderdom met dié nuwe veldtog van ikoniese serum

SARIE het gaan kyk na wat elkeen van die ses afdeling-wenners uniek maak. Hoe ookal jy verkies om te ontspan, hiér is ’n spa vir jou.

Dag-spa – Aronia Day Spa in Houghton, Johannesburg

Wat maak dit uniek?

Die spa spog met sy eie aromaterapie-tuin vol verskeie plante en kruie wat jou gesondheid en welstand bevorder. Besoekers kan deur dié tuin stap en ’n kombinasie van plante en olies kies om tydens hul spa-behandelings te gebruik.

FOTO: Facebook - Aronia Day Spa

Hotel-spa – Touch Spa @ Seasons Sport and Spa in Hartbeespoort

Wat maak dit uniek?

Dié spa se behandelings is geïnspireer deur die vier seisoene wat sorg vir ’n verskeidenheid van keuses om by jou spa-behoeftes te pas. Besoekers kan ook in die buitelug ontspan danksy ’n unieke spa-tuin wat spog met warm en koue swembaddens omring deur klein watervalle en natuurskoon.

FOTO: Facebook - Touch Spa Seasons

Boetiekhotel-spa – Camelot Spa by die Capital Moloko Hotel in Sandton, Johannesburg

Wat maak dit uniek?

’n Kalm atmosfeer en ’n pragtige tuin bied besoekers van dié spa ’n kans om vanuit die besige Sandton in Johannesburg te ontsnap. Die spa is ook baie omgewingsbewus en gebruik waar dit moontlik is net natuurlike of herwinbare produkte.

FOTO: Facebook - Camelot Spa @ Moloko Hotel

Unieke spa-konsep – Mukda Thai Spa in Gordonsbaai, Kaapstad

Wat maak dit uniek?

Mukda Thai Spa bied besoekers ’n hoë gehalte Thai-gesondheidservaring. Behandelings is gegrond op tradisionele Oosterse genesingsterapieë en skoonheidstegnieke.

FOTO: Facebook - Mukda Thai Spa

Safari-spa – Iketla Spa by Sondela Nature Reserve in Bela Bela

Wat maak dit uniek?

Dié spa is gesetel in ’n luukse wildsreservaat wat sorg vir ’n uiters ontspanne en rustige atmosfeer.

FOTO: Facebook - Sondela Nature Reserve

Estetiese/mediese spa – 15 on Seventh Medical Spa in Parktown North, Johannesburg

Wat maak dit uniek?

Die spa is gestig deur die bekende SA plastiese chirurg dr. Mark Steinmann en sy vrou, Jacqui. Dit bestaan uit dr. Mark se konsultasiekamers, nael- en wenkbroutoonbanke, ’n mediese spa waar besoekers onder meer vuller- en laserbehandelings kan ontvang én ’n kafee.

FOTO: Facebook - 15 on Seventh

Rolanda Marais en Christia Visser oor hoe om dieselfde karakter te speel