Ons hou van

Herstel jou bros, beskadigde naels

Is jy raadop met naels wat bros, dun en beskadig is? Van ’n nuwe salonbehandeling tot unieke olies, serums en selfs CC-rome vir jou naels – hiér is raad …

Naelprodukte en -behandelings met voedingstowwe om jou vinger- en toonnaels te versterk, fyn groefies op te vul en selfs vlekkies te verwyder, raak die laaste paar jaar al hoe gewilder. Dís danksy die neiging na naels wat meer natuurlik, gesond en goed versorg lyk.

Charis van den Heever, SARIE se skoonheidsredakteur, is onlangs deur dié nuwe salonbehandeling vir naels beïndruk:

charistoets“Die IBX-behandeling span twee produkte in wat soos deursigtige naellak lyk om onder meer wit vlekkies op jou naels te vervaag, fyn groefies in te vul en die splintering van jou naelpunte te voorkom. Die terapeut verf eers die IBX Repair-produk aan wat skade aan jou naels herstel en daarna ’n produk wat naels versterk. Albei produkte word afsonderlik onder ’n warm lig verhit sodra dit aangeverf is en dan met ’n LED-lig drooggemaak sodat dit jou nael binnedring om dieper te werk. Jy kan die behandeling op sy eie of saam met ’n gewone manikuur of ’n jel-manikuur laat doen. Indien jou naels erg beskadig is, gaan so een keer ’n week vir ’n IBX-behandeling. As jy jou naels gesond wil hou, is ’n afspraak elke twee tot drie weke vir sowat drie maande voldoende. Die behandeling werk ook vir toonnaels.”

* Die prys wissel van R60 – R100 (manikuur/pedikuur uitgesluit), na gelang van die salon. Charis was vir dié behandeling by ’n Sorbet-salon. Stuur ’n e-pos na info@sparklesa.co.za vir ’n lys van salonne waar dit beskikbaar is.

Buiten salonbehandelings is daar nou ook ’n verskeidenheid interessante naelsorgprodukte om tuis te probeer:

Naelolie: Scholl Velvet Smooth Nail Care Oil (R140)

Dié naelolie is ’n mengsel van sewe voedende olies. Wend gereeld ’n kutikel-olie aan jou vinger- en toonnaels en masseer dit in om jou naels en naelvelletjies te voed en te bevog. Massering help om die bloedsirkulasie na jou naels te bevorder en sorg só dat meer suurstof en voedingstowwe jou naels bereik.

Naelserum: Essie Shakes Nail & Skin Serum-reeks (R139 elk)

Die gekonsentreerde formules van dié reeks van drie produkte bevat elk ’n spesiale ekstrak om spesifieke naelprobleme te takel. Blou alge-ekstrak bevog naels en kutikels intens, koejawel-ekstrak sorg vir glansende, gesonde naels en komkommer-ekstrak help om naels soepel te hou sodat dit nie maklik breek nie. Skud die formule goed en wend dit aan jou naels én kutikels.

Naeljel: Locycare Nail Gel (R170)

Sekere chemikalieë in naellak kan jou naels geel vlek as jy die kleur te lank op jou naels hou. Dié naeljel bevat ’n kombinasie van bevogtigende bestanddele wat help om die natuurlike waterbalans van jou naels te verbeter. Dit sorg vir gesonder naels en verminder vlekke en merkies. By Dis-Chem

Naelmasker: Skin Republic Nail + Cuticle Repair Nail Mask (R43)

Wend dié naelbehandeling-vingerhoedjies aan 20 minute vóór jy jou naels tuis verf. Dis propvol plant-ekstrakte om naels te versterk en skade te verminder.

CC-room vir naels: SpaRitual Vegan CC Crème Correct + Care in Natural Light, Natural Medium en Natural Tan (R265 elk)

Jy kry nou selfs ’n CC-room vir jou naels! Dié unieke reeks naellakke bevat bestanddele wat jou naels versterk, verhelder en fyn groefies invul, en gee naels ook ’n subtiele wit of pienk skynsel wat gesond en natuurlik lyk. Kies uit drie deursigtige skakerings: sagpienk pas by ’n ligte velkleur, romerige ligbruin by ’n warmer velkleur en beige by ’n donkerder een. By uitsoeksalonne en spa’s

 

 

Lees nou

Eet nou koejawels!

Hiér is raad vir oë wat jonger lyk