Ons hou van

Nuwe trend: Houtskool vir aknee?

Van die beste toorgoed kom uit Moeder Aarde en in die skoonheidswêreld is dit beslis geen uitsondering nie. Al hoe meer velsorghuise reik glo na houtskool as ’n oplossing vir velprobleme soos verstopte porieë en aknee wat deur besoedeling vererger word.

Diana van Sittert, nasionale opleidingsbestuurder van Dermalogica, sê hierdie bestanddeel of “swart goud” diep uit die aarde se buik is tans baie gewild aangesien dit ’n kragtige reiniger en detoksmiddel vir jou vel is.

 

“In ons moderne wêreld waar osoonbesoedeling een van die grootste oorsake van velveroudering is, is ’n produk wat dieper en meer doeltreffend reinig al hoe belangriker in jou velsorgroetine,” sê Diana. Osoongas, die hoofbestanddeel in stedelike rookmis, beskadig jou velwand, laat jou porieë makliker verstop raak en belemmer jou vel se vermoë om homself te herstel. Dit kan veroorsaak dat plooie en fyn lyntjies vinniger vorm, jou vel fermheid verloor en jou veltekstuur growwer is. Om dié rede word daar al hoe meer velsorgprodukte soos maskers, gesigreinigers en vloeiseep met houtskool as ster-bestanddeel bekend gestel.

Hoe werk dit?

In skoonheidsprodukte word ’n suiwer vorm van houtskool, bekend as geaktiveerde houtskool, gebruik, sê Diana. Een so ’n houtskoolmolekule het die vermoë om tot 200 keer sy gewig in onsuiwerhede te absorbeer. Sodra jy dit op jou vel aanwend, trek die molekules metaaldeeltjies, gifstowwe en oortollige olie van diep binne jou vel soos ’n magneet aan na die oppervlak, waar dit aan die molekules vasklou. Wanneer jy die houtskool van jou gesig afwas, word die onsuiwerhede daarmee saam verwyder.

Boonop is houtskool geskik vir alle veltipes, selfs vir ’n droë en sensitiewe vel, sê Diana. Velsorgprodukte wat geformuleer is om diep en intens te reinig, bevat dikwels bestanddele wat geneig is om ’n vel te stroop van vog en irritasie te vererger. Omdat geaktiveerde houtskool ’n suiwer, natuurlike bestanddeel is, irriteer dit nie jou vel nie. Dit trek ook nie vog en ander belangrike voedingstowwe uit jou vel nie.

 

If Friday had a face, we’d put a masque on it. : @caitlinclairexo #Dermalogica #Friyay #charcoalrescuemasque

 

A photo posted by dermalogica (@dermalogica) on

Hiérvoor kan jy houtskool gebruik:

* Om verstopte porieë skoon te maak sodat die porieë minder sigbaar is. Dit sal help keer dat jou vel puisies kry.

* As jy ’n baie olierige vel het, kan dit help om oortollige olie uit jou vel te trek om jou gelaat ’n mat-afwerking te gee. Vermy die gereelde gebruik van houtskool as jou vel geneig is om droog te wees.

* Houtskool kan selfs op jou hare en kopvel gebruik word om vuiligheid en haarproduk-residu doeltreffend te verwyder.

Het jy geweet?

Geaktiveerde houtskool word verkry wanneer houtskool in die teenwoordigheid van ’n gas soos suurstof verhit word om enige onsuiwerhede uit die houtskool te verwyder. Dit verbeter ook die houtskool se absorberingsvermoë.

Probeer dié produkte:

Dermalogica Charcoal Rescue Masque (R790)

Hierdie masker bevat ’n spesiale soort steenkool afkomstig van Japan. Saam met bestanddele soos kruisement, melksuur en vitamien B laat dit jou vel gesond en helder lyk met ’n egalige tekstuur.

L’Oréal Paris Pure Clay Detox Mask (R150)

Perfek vir ’n olierige vel! Houtskool word met drie verskillende tipes klei gekombineer om klaar te speel met afvalstowwe en oortollige olie.

The Body Shop Spa of the World Himalayan Charcoal Body Clay (R235)

’n Luukse lyfmasker wat sorg vir ’n silwerskoon vel.

Cettua Charcoal Nose Strip (R55)

Gebruik dié strokies met houtskool om die verstopte porieë op jou neus skoon te maak. By Clicks.

Hask Charcoal with Citrus Oil Purifying Shampoo en Conditioner (R140 elk)

Gebruik ’n sjampoe en opknapper wat houtskool bevat om byvoorbeeld haarstileringsprodukte wat oor tyd op jou kopvel en in jou hare opgebou het, skoon te maak. By Clicks.

Lees nou

5 haarstyle wat nét 7 minute sal neem

Minki van der Westhuizen deel haar mooilyk-gewoontes