Ons hou van

Jou superproduk teen veroudering

By meer as een skoonheidsbekendstelling is die volgende grappie gemaak: Wat is die eerste ding wat jy gryp wanneer jou huis besig is om af te brand …? Jou retinol! Die skoonheidswêreld kan nie uitgepraat raak oor die magdom voordele van retinol vir jou vel nie, tog is baie van ons nog skrikkerig om dié superproduk te gebruik. Moenie wees nie! Dis een van die mees nagevorste bestanddele en word al dekades lank ontwikkel en verbeter.

FOTO’s: Só lyk Afrika uit die ruimte!

Wat is retinol?

Dié kragtige bestanddeel is ’n vorm van vitamien A en het die vermoë om kollageen te stimuleer sodat jou vel plomper en jeugdiger lyk. Dit skilfer ook onsigbaar die boonste deel van jou vel af vir ’n gladder, stralende gelaat, behandel aknee, donker vlekke (pigmentasie), plooie en fyn lyntjies en normaliseer jou vel se natuurlike bevogtigingstelsel.

Hoe gebruik ek dit?

Dis belangrik om produkte wat retinol inspan, reg te gebruik, sê Sonette Donker, velsorgkenner van die velsorgkliniek Skin ID in Johannesburg. Die meeste retinolprodukte is in ’n serum te kry. Jy kan dit bloot by jou bestaande velsorgroetine voeg en in die aand aanwend ná jy jou vel gereinig het.

En as dit my vel sensitief maak?

Omdat dit ’n baie aktiewe bestanddeel is, kan jou vel in die begin effens rooi en droog wees en selfs sigbaar ’n bietjie afskilfer. Moenie dat dit jou van retinol afskrik nie. Gebruik die produk eers so een of twee keer ’n week saans totdat jou vel gewoond is daaraan en vermeerder dit stelselmatig. “Dit neem so twee weke vir jou vel om aan te pas. Jy kan in hierdie tyd ’n ryker vogroom en bevogtigende masker gebruik om die droogheid teen te werk,” stel Sonette voor.

Maak dit vel meer sonsensitief?

Dis ’n mite dat jou vel meer sonsensitief is as jy retinol gebruik, sê die internasionale velsorgkenner Paula Begoun op haar webtuiste www.paulaschoice.com. Maar dit bly belangrik om daagliks sonskerm te gebruik.

Waarvoor moet ek uitkyk as ek so ’n produk koop?

Omdat retinol baie sensitief is vir lig en lug en sy doeltreffendheid verloor wanneer dit hieraan blootgestel word, kyk uit vir verpakking wat lugdig is en geen lig deurlaat nie. Soek ook vir dié woorde op die verpakking: retinol, retinyl-palmitaat (retinyl palmitate), retinol-asetaat (retinyl acetate) en vitamien A.

Ons top-retinolprodukte

Vichy Liftactiv Advanced Filler (R469)

Lyntjies lyk minder opsigtelik danksy dié serum.

Environ Debut Face Moisturiser (R298)

Die formule van dié vogroom bevat ’n lae konsentrasie vitamien A, perfek as jy nog nie die vitamien op jou vel gebruik het nie. By uitsoeksalonne

Exuviance Super Retinol Concentrate (R940)

Die unieke formule stel retinol stelselmatig vry en werk só langer op jou vel. By uitsoeksalonne

Optiphi Intense Retinol Infinity Serum (R1 095)

As jou vel reeds gewoond is aan vitamien A, probeer dié serum met ’n sterker konsentrasie vitamien A. By uitsoek- estetiese klinieke

pHformula Vita A 24 Hour Cream (R989)

Retinol word met bevogtigende bestanddele gekombineer om die voorkoms van plooie en fyn lyntjies te verminder. By uitsoek- estetiese klinieke of skakel 011 036 9600

SkinCeuticals Retinol 0.3 (R1 190)

Probeer dié retinolproduk as jy ’n ouer vel het, maar nog nie voorheen retinol op jou vel gebruik het nie. Besoek www.skinceuticals-za.com

Dermalogica Overnight Retinol Repair en Buffer Cream (R1 480)

Gebruik aan die begin dié produk saam met die bevogtigende Buffer Cream om velirritasie te beperk.

Dermaceutic Activ Retinol 1.0 Intense Anti-Age Serum (R924)

Dié kragtige formule bevat ook vitamien C en E om jou vel helder en bevog te hou. By estetiese klinieke

Bykomende bronne: www.paulaschoice.com

Stap vir stap: Verbloem só donker kringe onder jou oë