FOTO Instagram / @lorealmakeup

FOTO Instagram / @lorealmakeup

Ons hou van

Kyk! Dié trends uit jou tienerjare is terug

Baie van die nuutste skoonheidstrends put inspirasie uit dié van vorige dekades. Vir die SARIE-span was dit pret om te sien hoe die gewilde skoonheidsvoorkomste van ons tienerjare skielik weer gedra word. Kyk net na dié nostalgiese voorkomste en hul moderne kinkels …

50’s: Bloedrooi lippe

Nostalgiese inspirasie: In die 50’s was ’n helderrooi skakering groot nuus danksy die ikoniese aktrise Marilyn Monroe. Haar rooi lippe is dikwels saam met sagte rokerige oë, of oë wat sterk omlyn is, gedra.

Moderne kinkel: Vanjaar se rooi lippe dra jy saam met so min moontlik grimering. Gebruik ’n bietjie onderlaag om die nodigste te verbloem, wend ’n paar lae maskara aan en maak jou rooi lippe die fokus van jou voorkoms.

60’s: Bonkige wimpers en helder oogomlyner

Nostalgiese inspirasie: In die 60’s was model Twiggy bekend vir haar bonkige wimpers en vloeibare oogomlyner. Dit het haar oë wawyd oop laat lyk.

Moderne kinkel: Jou wimpers het selfs meer drama as Twiggy s’n! Wend hope maskara aan jou boonste en onderste wimpers. Jy kan dan ’n knyptangetjie gebruik om ’n paar wimperhaartjies op ’n slag teenmekaar te druk terwyl die maskara nog nat is sodat dit bonkiger lyk.

70’s: ’n Sonbruin gelaat

Nostalgiese inspirasie: In die 1970’s het almal Hollywood-bekendes soos Farrah Fawcett en Cybill Shepherd se sonbruin en glinsterende gelaat begeer.

Moderne kinkel: Vanjaar se Olimpiese Spele in Brasilië het ’n goudbruin lyf en gesig weer in die kollig geplaas. Gelukkig hoef jy nie meer ure in die son te lê om bruin te word nie. Met selfverbruiningsprodukte en verbronser kan jy dit binne minute tuis skep.

80’s: Die perm

Nostalgiese inspirasie: Wie sal ooit die 1980’s se bonkige, stywe krulle vergeet? Deesdae vra al hoe meer vroue weer hul haarkapper vir ’n perm omdat dit ’n maklike manier is om ’n golwende haarstyl wat natuurlik lyk te skep.

Moderne kinkel: Vir ’n moderne perm sal jou haarstileerder groter krulle skep wat sagter en meer vloeiend lyk. Kyk net hoe modern tog retro lyk die aktrise Hilary Duff met haar fyn golwe.

90’s: Bruin lipstiffie

Nostalgiese inspirasie: Skoonheid in die 90’s word gekenmerk aan buierige bruin lipstiffie-skakerings eie aan die grunge-styl.

Moderne kinkel: ’n Bruin lipstiffie lyk gesofistikeerd en ultramodern. Rooi skakerings met ’n bruin, swart of donkerpers ondertoon is ook gewild. Dink aan ’n glas rooiwyn, ’n gebou van bruinrooi bakstene, eiervrug …

2000’s: Skitterende lipglans

Nostalgiese inspirasie: Hoe blinker – en taaier – jou lippe, hoe beter! Lipglans was in die vroeë 2000’s ’n móét-hê vir tienermeisies.

Moderne kinkel: Danksy beter formules en teksture kan vroue van alle ouderdomme vandag lipglans dra. Kies ’n helder, superglansende formule vir ’n somerpartytjie of ’n neutrale skakering met ’n tikkie blink vir ’n meer gesofistikeerde voorkoms.

Watter skoonheidstrend het jý in jou tienerjare slaafs nagevolg?

Deel jou nostalgiese stories en gesels saam ons op Facebook of Twitter.

Lees nou

Jy vlos dalk verkeerd

Keer dat jou haarkleur vervaag met dié 5 wenke