FOTO: Elmari de Vos

Ons hou van

Look Good Feel Better vier borskankermaand

SARIE het gister ’n spesiale geleentheid van die nie-regeringsorganisasie Look Good Feel Better (LGFB) bygewoon. Dié organisasie hou gereeld werksessies vir vroue met kanker.

By dié sessies leer kankerpasiënte hoe hulle meer as 20 van die sigbare newe-effekte van chemoterapie kan behandel. Pasiënte vind ook uit watter tipe produkte veilig is om te gebruik terwyl hulle behandeling ondergaan.

FOTO: Peter Morey (Clinique)

FOTO: Peter Morey (Clinique)

Gister se werksessie by die Garden City-hospitaal in Johannesburg was ekstra spesiaal omdat Clinique ’n tjek van R112 000 aan LGFB oorhandig het. Clinique het die geld met die verkoop van ’n spesiale borskanker-uitgawe van hul Dramatically Different Moisturizing Lotion + (DDML) ingesamel. Clinique skenk ’n persentasie van elke spesiale DDML wat in Oktober verkoop word aan LGFB as deel van die internasionale borskankermaand.

FOTO: Elmari de Vos

FOTO: Elmari de Vos

Die vroue by gister se sessie het nie net ’n grimeerles en raad oor skoonheidsprodukte gekry nie, maar ook ’n geskenkpak vol skoonheidsprodukte. Die organisasie wil die selfvertroue van vroue wat in ’n moeilike tyd van hul lewens is, ’n hupstoot gee.

LGFB, wat in meer as 20 lande werksaam is, bied werksessies in Suid-Afrika se se agt groot stede aan. Besoek www.lgfb.co.za vir meer oor die sessies wat gereeld in Johannesburg, Pretoria, Kaapstad, Port-Elizabeth, Oos-Londen, Durban, Bloemfontein en Pietermaritzburg gehou word.

Sommige wenke:

  • As jy jou wenkbroue verloor het, kan jy dit met ’n veer-tegniek inteken. Trek kort strepies wat apart van mekaar is, eerder as ’n soliede lyn met jou wenkbroupotlood
  • Omdat chemoterapie jou vel se sterkte laat afneem, moet jy elke dag ’n sonbrandroom met ’n sonbeskermingsfaktor (SBF) van minstens 30 dra.
  • Smeer sonbrandroom oral waar jou vel ontbloot is – ook aan jou kop en die randjies van jou ore.
  • Probeer om nie maskara te dra nie, want die behandeling droog ook jou wimpers uit.
  • Om jou wimpers te bevogtig kan jy ’n ou maskaraborsel skoon maak en elke aand ’n bietjie petroleumjellie met die borsel aan jou wimpers wend.
  • Vermy rome wat diep in jou vel intrek – daar is reeds genoeg chemikalieë in jou liggaam!