Ons hou van

‘n Witgoud-lipjuweel

Is dit ʼn spieëlkissie? ʼn Juweel? Of dalk ʼn lipstiffie?

Rouge G De Guerlain (R515) bied jou alles in een! Die silwerjuweel-verpakking is deur die wêreldbekende juwelier Lorenz Bäumer ontwerp en is met witgoud – ja, sowaar! – bedek. Maar wat maak dit só spesiaal?

Dié lipstiffie het geleer om nes jy te multitask en bied intense kleur, definisie en gemak. Dit bevat robynpoeier wat daglig vasvang en jou lippe kleur. Die veselperske in die formule sorg dat lippe bevog bly, terwyl vitamien A voller lippe belowe.

“Ons het vyf eienskappe geïdentifiseer wat lippe perfek maak: helder kleur, definisie, gemak, volheid en ʼn gladde voorkoms,” sê Olivier Échaudemaison, Guerlain se kreatiewe direkteur. En hier kry jy almal!

Rouge G De Guerlain is vanaf April te kry in 25 klassieke bruin- en pienk-skakerings, asook gewaagde oranjes en flambojante rooie.