Ons hou van

Naweekwenk: Hoe om jou skoonheidsprodukte reg aan te wend

Hoe weet jy of jy die regte hoeveelheid van jou skoonheidsprodukte gebruik? Wend jy te veel aan, moet jy elke tweede maand winkel toe gaan, terwyl te min jou vel en hare laat hunker na nog. Ons wys jou hoe om net genoeg van die produkte aan te wend en gee ’n paar wenke om jou vel- en haarsorg-roetine makliker te maak.

Velsorgprodukte

Reiniger – Omdat reinigers gewoonlik skuim, is ’n spuit so groot soos ’n haselneut genoeg. As jy ’n romerige reiniger gebruik, kan jy ’n bietjie ekstra byvoeg. Gebruik dan jou vingerpunte en masseer jou vel liggies.

Dagroom – As jou vogroom ’n SBF bevat, kan jy nooit te veel aanwend nie. Begin met twee rosyntjiegroot hopies en wend dit met jou vingerpunte aan jou gesig vir doeltreffende beskerming. Voeg nog “rosyntjies” by soos dit nodig is. Moenie jou room aansmeer nie; dit kan op die lang duur plooie en lyne op jou gesig vererger. Druk dit eerder liggies met jou vingers in jou vel in.

Nagroom – ’n Hoeveelheid so groot soos ‘n bloubessie is al wat nodig is vir ’n bevogtigende nagroom. In die winter kan jy ’n bietjie ekstra room gebruik. Maak ook seker dat die room goed geabsorbeer het voordat jy in die bed klim sodat dit nie op jou beddegoed afsmeer nie.

Moenie jou room aansmeer nie; dit kan op die lang duur plooie en lyne op jou gesig vererger. Druk dit eerder liggies met jou vingers in jou vel in.

Retinol en serums – Dié produkte is geneig om baie aktief te wees. ’n Spuitjie so groot soos ’n ertjie sal daarom genoeg wees omdat te veel aktiewe bestanddele jou vel kan irriteer.

Oogroom – Gebruik jou ringvinger om jou oogroom van die binnehoek van jou oog na die buitehoek liggies aan te tik. Vermy jou ooglid, tensy die aanwysings dit aanbeveel. Een “dennepit” per oog sal genoeg wees. Te veel van dié room kan jou oë irriteer en pofferig maak.

Sonskerm – Jy kan nooit te veel sonskerm aanwend nie! Gebruik die grootte van ’n druiwekorrel vir elke deel van jou lyf: jou gesig, nek, bolyf, arms en bene.

SARIE beantwoord jou skoonheidsvrae!

Haarsorgprodukte

Sjampoe –  As jy kort hare het, gebruik ’n druppel so groot soos ’n swartbessie, en ’n aarbeigroot ene vir langer hare. Te veel sjampoe kan jou hare uitdroog. Wend ook eerder die sjampoe aan jou haarwortels en kopvel aan as aan die punte van jou hare.

Opknapper – Te veel opknapper laat jou hare swaar en plat lyk en jy hoef daarom net opknapper vanaf die middel van jou hare tot by jou haarpunte aan te wend. Vir kort hare sal ’n hopie so groot soos ’n kersie genoeg wees, terwyl ’n hopie so groot soos twee frambose vir lang dik hare ideaal is.

Te veel sjampoe kan jou hare uitdroog.

Haarserums en -olies – Gebruik die ekwivalent van een of twee makadamianeute vir haarserums en haarolies om te keer dat jou hare te olierig word. Tem ook jou hare deur die dag deur ’n ertjiegroot hopie tussen jou handpalms te vryf en liggies op jou hare te druk.

Haarmousse – Spuit ’n bal so groot soos ’n klein appel vir die perfekte mousse-“porsie”. Tik dit liggies tussen jou palms en kam dit met jou vingers deur jou hare.

Stileringsprodukte – Meet ongeveer twee pampoenit-porsies af om te verseker dat jy nie te veel van jou stileringsprodukte gebruik nie. Versprei dit oor jou handpalms en begin dit net onder jou haarwortels aanwend.

Kreatiewe bottels vir jou haarprodukte – maak dit só!

Gebruik dié porsiegrootte op ons Pinterest-blad lys as riglyn.

skoonheidsporsies

Bronne: www.totalbeauty.com, www.makeup.com, www.realsimple.com