FOTO: AZarubaika / Gallo Images / Getty Images

FOTO: AZarubaika / Gallo Images / Getty Images

Ons hou van

Nuwe jaar, nuwe haarkleur!

Ons almal hou van ’n skoon begin en hiér glo ons die eerste stap tot ’n vars voorkoms is ’n nuwe haarkleur of -sny. Gelukkig het ons reeds drie nuwe haarkleurneigings ontdek wat sorg vir hope inspirasie vir die nuwe jaar.

 

Normcore

Grimering wat natuurlik lyk, haarstyle wat min moeite verg en vereenvoudigde velsorgroetines… verlede jaar se gewilde minder-is-meer-neiging, wat normcore gedoop is, het oorgespoel na die nuwe jaar. Dié neiging sit die klem op ’n natuurlike, gemaklike voorkoms en vanjaar geld dit ook jou haarkleur. Dit behels dat jou hare so na moontlik aan jou natuurlike haarkleur gekleur word, soos bruinblond eerder as platinumblond of een kleur bruin met hier en daar ligte strepies. Sterre soos Jennifer Lawrence en Emma Stone het reeds die skuif gemaak, terwyl Taylor Swift en Emma Watson al lank by hul natuurlike skakerings bly. Boonop sal dit makliker as ooit tevore wees om jou nuwe (ou) haarkleur te onderhou.

Ons skoonheidsvoornemens vir 2015 – lees meer hiér!

Babylights

Vir dié wat skrikkerig is om terug te keer na een natuurlike haarkleur is babylights die antwoord. Ligte, fyn sonstrepies word in jou hare gesit om dit dimensie en ’n son-goud glans te gee, sonder dat dit te veel afwyk van jou natuurlike haarkleur. Die inspirasie vir dié neiging kom van die natuurlike goue en blonde sonstrepies waarmee jong kinders ná ’n seevakansie pronk, vandaar die naam. Bekende modelle soos Miranda Kerr en Karlie Kloss pronk tans met dié voorkoms.

Gee só woema vir jou hare

Metaalglans

Tydens die feesseisoen was metaalskakerings vir jou oë groot. Nou het kleurkenners van Hari’s Hairdressers, ’n gewilde Londense haarsalongroep, ’n splinternuwe haarkleur-tegniek ontwikkel wat aan jou kroon ’n effense metaalglans gee. Met dié tegniek word ligte skakerings van brons spesiaal gemeng om by jou haarstyl en gelaatskleur te pas. Die balayage-tegniek (haarkleur word vrylik en oneweredig met ’n kwas aan jou hare geverf) word dan gebruik om die kleur aan te wend. Dit sorg vir ’n subtiele metaalglans wat jou hare gesond en glansend laat lyk. Vir seker iets om in die winter uit te probeer!

Bronne: www.yahoo.com/beauty, www.instyle.com, www.harissalon.com

Die Gary Rom-blog: “Ons plan met Rolene Strauss se hare”