FOTO Instagram (@dermalogica)

FOTO Instagram (@dermalogica)

Ons hou van

Ons 3 gunsteling-skoonheidsbehandelings

Daar is miljoene skoonheidsbehandelings beskikbaar en soms kan die talle keuses jou verwar. As SARIE se skoonheidsredakteur het Charis van den Heever al die kans gekry om ’n hele paar van dié behandelings uit te toets.

Hiér deel sy haar drie gunsteling-behandelings vir gesonde hare, naels en vel.

charistoets

Charis van den Heever, SARIE se skoonheidsredakteur.

♥ Hare sonder skade

Sal dit nie wonderlik wees om die skade te herstel wat jy jou hare aandoen met al die uitblaas, krul, kleur, stryk en bleik nie? Nou kan jy! Elke haar op jou kop het disulfaat-bindings (chemiese bindings wat die proteïenstrukture van jou hare bymekaar hou) in die haarskag (die binneste deel). Chemiese en hitteprosesse beskadig jou hare deur dié bindings te breek. Die Olaplex-behandeling bestaan uit twee salonprodukte wat die bindings herstel sodat jou hare glad, sag en soepel is. Die produkte word bloot afsonderlik in jou hare ingevryf en ná ’n ruk uitgespoel. Hoe meer jou hare beskadig is, hoe beter is die resultate. My hare is relatief gesond omdat ek dit nie baie kleur nie, maar die onderste deel was grof en droog omdat ek dit daagliks uitblaas. Ná die behandeling was dit weer glad en sag. Daar is ook ’n tuisproduk beskikbaar wat jy een keer ’n week gebruik om die resultate tussen behandelings te onderhou.

Prys sowat R300 – R600

* Besoek www.olaplexsa.co.za vir meer inligting en ’n lys van salonne waar die behandeling beskikbaar is.

♥ Sterk, gesonde naels

As jy raadop is met naels wat bros, dun en beskadig is, is ’n nuwe salonbehandeling wat dié probleme takel jou antwoord. Die IBX-behandeling span twee produkte in wat soos deursigtige naellak lyk om onder meer wit vlekkies op jou naels te vervaag, fyn groefies in te vul en die splintering van jou naelpunte te voorkom. Die terapeut verf eers die IBX Repair-produk aan wat skade aan jou naels herstel en daarna ’n produk wat jou naels versterk. Albei produkte word afsonderlik onder ’n warm lig verhit sodra dit aangeverf is en dan met ’n LED-lig drooggemaak sodat dit jou nael binnedring om dieper te werk. Jy kan die behandeling op sy eie of saam met ’n gewone manikuur of ’n jel-manikuur soos gelish (’n jel-naellak word aangeverf en met ’n LED-lig drooggemaak) laat doen. As jou naels erg beskadig is, kan jy die IBX-behandeling so een keer ’n week laat doen. As jy jou naels gesond wil hou, is ’n afspraak elke twee tot drie weke vir so twee tot drie maande voldoende. Jy kan die behandeling ook op jou toonnaels laat doen.

Prys sowat R60 – R100 (manikuur/pedikuur uitgesluit), afhangende van die salon

* Ek het dié behandeling by ’n Sorbet-salon laat doen. E-pos info@sparklesa.co.za vir ’n lys van salonne waar dit beskikbaar is.

FOTO: Getty/ Gallo

FOTO Getty/ Gallo

♥ Gesonde porieë

Vra maar vir enige veteraan-skoonheidsredakteur en hulle sal sê jy gaan ver soek om ’n beter velsorgterapeut as Colleen Serebro, eienaar van die skoonheidsalon Beauty Professionals in Victory Park, Johannesburg, te kry. As jy in Gauteng woon, is dit die moeite werd om ’n afspraak by haar te maak. Met elke gesigbehandeling wat sy doen, ontleed sy jou vel in-diepte en pas die behandeling aan om die beste resultate vir jóú velkwessie te kry, of dit nou volwasse aknee, veroudering of pigmentasie is. Sy werk al vir meer as 40 jaar in die skoonheidsbedryf en is ’n meester as dit kom by porieë skoonmaak sonder om jou vel te kneus of rooi te laat. En as jy sukkel om ’n afspraak by haar te kry, het sy ’n span velsorgterapeute wat sy self opgelei het. Omdat ek veral met verstopte porieë sukkel, het Colleen op dié velprobleem gefokus. Sy het my gesig gestoom en ’n produk aangewend wat die ingang na die porieë versag (comedone softener) voordat sy elke porie mooi skoongemaak het. Ek kon nie glo hoe goed my vel ná die behandeling gelyk het nie – sonder enige rooiheid!

* Besoek www.beautyprofessionals.co.za vir meer inligting

Lees nou

Water, groentee, wyn… – drink dié drankies vir die mooiste vel!

Hou op om dié super-velsorgproduk te vrees