FOTO Gallo Images / Getty Images

Ons hou van

Ons Oscar-gunstelinge

Bollas was die haarstyl van die aand, terwyl natuurlike en ou-Hollywood grimering die gewilde keuse onder die aktrises was. Hier is ons gunstelinge:

Jessica Chastain

Jessica Chastain (bekend vir flieks soos The Help en The Tree of Life) se sagte, rokerige oë is die ideale voorkoms vir enige aandgeleentheid. Net soos Jessica, is dit wys om die res van jou grimering natuurlik te hou as jy een gelaatstrek gekies het waarop jy die aandag wil vestig. Haar romantiese, los hare is die perfekte kontras vir haar treffende rok.

Angelina Jolie

Angelina Jolie

Daar is nie ‘n rooitapyt-geleentheid waar Angelina Jolie nié sexy lyk nie, en vanjaar se Oscars was geen uitsondering nie! Sy het ‘n ou-Hollywood gunsteling, rooi lippe, gekies en dit ‘n moderne voorkoms gegee deur ‘n vars helderrooi skakering te dra. Angie het haar oë eenvouding gehou met ‘n bietjie oogomlyner en baie maskara.

Gwyneth Paltrow

Gwyneth Paltrow

Om te verseker dat haar rok die kollig steel, het Gwyneth Paltrow gekies om haar grimering lig en eenvoudig te hou. En ons hou daarvan! Sy het net ‘n tikkie kleur op haar oë aangewend en haar voorkoms met ‘n ligpienk lipglans afgerond. Haar lae, los poniestert (wat haar hare uit haar nek en gesig gehou het) was die regte haarstyl om die fokus op haar rok te plaas.