ons toets
Ons hou van

Ons toets: Drie maskaras

Ek het altyd gedink die bestanddele in maskara, of selfs die handelsnaam, bepaal die doeltreffendheid van die produk. Maar dit was eers toe ek verskillende maskaras gelyktydig uitgetoets en vergelyk het dat ek besef het die geheim lê eintlik in die borseltjie.

Ek het drie maskaras getoets: Elizabeth Arden Beautiful Color Lash Enhancing Mascara (R195), Maybelline The Colossal Volum’ Express Smoky Eyes Mascara (R125) en Rimmel Scandaleyes Rockin’ Curves Mascara (R109).

Ek het dit nie verwag nie, maar die maskara met die borseltjie wat die minste indrukwekkend gelyk het, het my die meeste beïndruk! Die maskara van Elizabeth Arden is by verre my gunsteling. Toe dié maskara in die buisie opdroog, het ek die borseltjie gehou en gebruik dit nou in enige ander maskara-buisie.

Kyk hoe het dié drie maskaras gevaar:

 

Elizabeth Arden Beautiful_Color_Lash_Enhancing_Mascara_7ml_1373614286Maskara: Elizabeth Arden Beautiful Color Lash Enhancing Mascara

Borseltjie: Dun, langwerpige borseltjie met kort harde haartjies wat wyer verspreid is.

Die belofte: Krul, lig en verleng elke liewe ooghaar

Eie ondervinding: Ek sien ’n reuse verskil met slegs een keer se aanwending. Die borseltjie is klein genoeg om selfs die fyn haartjies in die hoeke van jou oë by te kom en die kort harde haartjies van die borsel wat bietjie wyer verspreid is, sorg dat elke wimpertjie gedek, gekrul en gelig word. Boonop lyk dit of my wimpers baie voller en langer is.

 

Maybelline mascaraMaskara: Maybelline The Colossal Volum’ Express Smoky Eyes

Borseltjie: Dik langwerpige borseltjie wat aan die vorm van ’n rugbybal herinner. Dit het klomp korterige reguit haartjies.

Die belofte: Volume. Die maskara bevat kollageen wat jou wimpers voller en sagter laat lyk.

Eie ondervinding: Die maskara skep beslis die indruk dat jou wimpers langer en voller voorkom, maar die groot borseltjie sorg nie vir ’n lekker krul nie.

 

Rimmel Scandal eyes_Rockin__039__Curves_Mascara_12ml_1391600047Maskara: Rimmel Scandaleyes Rockin’ Curves

Borseltjie: Dik, krom borseltjie met klomp langerige haartjies. Dit is Rimmel se eerste borsel in dié S-vorm.

Die belofte: Groot gekrulde, rockster-wimpers. Die gebuigde borsel is gemaak om by jou wimper-haarlyn te pas terwyl die dun puntjie by die hoeke kan bykom. Slegs een aanwending is nodig vir dié voorkoms.

Eie ondervinding: Dis maklik om met die borseltjie te werk omdat dit gemaak is om by die vorm van jou wimperlyn te pas. Een aanwending sorg vir dikker, langer wimpers, maar ’n paar aanwendings is nodig om volume te skep.

gloria_nuut_400w

 

Gloria Cilliers, senior joernalis