Ons hou van

Ons toets: ’n Gesigborsel wat sagkens reinig

Gesigborsels is tans groot nuus in die velsorg-wêreld omdat dieper reiniging vir jou vel nodig is om van grimering en onsuiwerhede ontslae te raak. Ek was baie nuuskierig om die Olay Regenerist 3-Point Super Cleansing System (R335, batterye ingesluit) te probeer om te sien of dié nuwe manier van reiniging inderdaad ’n verskil maak.

Die toestel is klein en kompak en kom saam met ’n vervangbare borselkop met sagte haartjies. Hoewel die meeste gesigborsels op die mark van pols-tegnologie gebruik maak, gebruik dié borsel fyn draai-bewegings om jou vel sorgvuldig te reinig. Saam met die borsel kry jy ook ’n Olay Regenerist Skin Perfecting Cleanser. Dit bevat klein korreltjies wat jou vel sagkens afskilfer. Ek het eers die reiniger oor my hele gesig aangewend, waarna ek vir sowat ’n minuut met die borsel liggies oor my gesig gevryf het.

My vel het elke keer ná gebruik silwerskoon gevoel. Ek het ook agtergekom dat my vel die ander produkte in my velsorgroetine beter geabsorbeer het. Omdat die reiniger ook as ’n afskilferaar dien, word jou vel daagliks van dooie selle gestroop wat die voorkoms van ’n veluitslag aansienklik verminder. Ek is ook mal daaroor dat die borsel waterbestand is – ek gebruik dit dan sommer in die stort!

 

Monica Pienaar, skoonheid-assistent