1
Ons hou van

Ons toets: Kings & Queens Emperor Akbar Mango Body Butter

Ek vermy gewoonlik lyfbotter omdat ek nie mal is daaroor om ’n potjie te gebruik nie. Daarom was ek aangenaam verras toe ek een in ’n buis teëkom.

Lyfsorg vir ’n koningin

Die Kings & Queens Emperor Akbar Mango Body Butter (R109) is geïnspireer deur ’n 16de eeuse keiser wie se liefde vir mango’s alombekend was. Behalwe vir die heerlike mango-geur van dié lyfbotter, was ek ook mal oor die tekstuur daarvan. Dis ’n ryk room wat ’n rukkie vat om in te vryf, maar toe ek dit eers aangewend het, het dit baie vinnig in my vel ingetrek en glad nie olierig gevoel nie. Ek kon selfs ná ek die aand gebad het nog mango ruik! Ander geure in die reeks sluit in King of Sumatra Pepper Bergamot, Aztec King Vanilla Pear, Sultan of Granada Lemon Flower, Queen Elizabeth Sugar, Caspar Myrrh en Nefertiti Honey. Beskikbaar by uitsoekwinkels van Edgars. – Liesl du Toit, skoonheidsassistent

Liesl du Toit