ons toets
Ons hou van

Ons toets: Selfverbruinersproei

Ek was heel in my noppies toe ek hoor ek gaan by ’n lys Hollywood-sterre, soos Gwyneth Paltrow, Sofia Vergara en Penélope Cruz, aansluit. Hulle het al almal vir ‘n selfverbruiner-sproeisessie met Vita Liberata gegaan. En ek het ook onlangs die geleentheid gekry om dit te toets.

Vita Liberata is nuut in die land. Buiten vir die sproeisessies, kan jy ook verbruinerprodukte koop wat jy self by die huis kan gebruik. Die produkte is organies en glad nie skadelik nie. Dit word uit Ierland ingevoer en is tans ’n topverkoper in Brittanje en Amerika.

Vir die sproeisessie kan jy uit verskeie skakerings kies om by jou velkleur te pas. Jy kan ook kies hoe donker jy jou vel wil hê. Ek het die Rapid-verbruiner uit die reeks gekies omdat dit baie vinnig op jou vel ontwikkel (tussen twee en vier uur).

Kry 'n gesonde sonbruin-voorkoms met 'n selfverbruiner FOTO: Verskaf

Kry ‘n gesonde bruingebrande voorkoms met ‘n selfverbruiner. FOTO: Verskaf

Die sproeisessie het net sowat 10 minute geduur en die produk het taamlik vinnig droog geword. Jy kry egter eers die volle mooi, egalige bruin voorkoms nadat jy die eerste keer gestort of gebad het. Met ander verbruinerprodukte moet jy gewoonlik tussen 8 en 12 uur wag sodat dit op jou vel kan ontwikkel voordat jy bad of stort, maar Vita Liberata neem net vier tot agt uur om te ontwikkel.

Moenie skrik as die produk donkerder op jou vel lyk wanneer dit aangewend word nie. Jy sal ook ’n bietjie streperigheid hier en daar sien, maar dit is net oortollige produk op jou vel. Sodra jy gestort of gebad het, is daar geen oranje lyne of strepe nie. My lyf het ’n foutlose en natuurlike sonbruin gehad en ek was baie beïndruk.

Wat my selfs meer beïndruk het, is dat ek ná byna 10 dae steeds bruin was. Die produk vervaag egalig nes dit in die advertensie beloof. Vita Liberata-produkte bevat ook ’n sonskerm en dit bevog jou vel.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

 

Vita Liberata-verbruinersessies en -produkte is tans beskikbaar by die Just Skin Aesthetic Clinic in Groenpunt, Kaapstad (021 433 1783) en Midori Salon, Sandton (083 212 5773). Die tuisprodukte is ook te koop op hul webblad, www.vitaliberata.co.za, of skakel hul hoofkantoor by 021 465 8569. Dit sal binnekort by verskeie salonne reg oor Suid-Afrika beskikbaar wees. – Gloria Cilliers, spesialis-joernalis