Ons hou van

Ons toets: Tydelike haarkleure vir somer

Ek was baie opgewonde om haarkryt (hair chalk), wat dié somer baie gewild is, op my hare uit te toets. Met dié prettige produkte kan jy enige kleur van die reënboog sommer self in jou hare sit. Dit was in ’n kits weer uit en kan op ligte en donker hare gebruik word. Ek het Kevin Murphy Color Bug in Pink (R190) en Splat Hair Chalk in Midnight Blue (R100) probeer.

Aanvanklik het ek albei dié kleure aan my droë haarpunte aangewend sonder om enige ander produkte te gebruik. Maar die kleur het baie vinnig deur die dag uit my hare gegaan en my hande is boonop erg gevlek terwyl ek dit aangewend het. Met die tweede probeerslag het ek handskoene gedra en eers haarsproei op die haardele waar ek die kleur wou aanwend, gespuit en dit laat droog word. Ná ek die kleur aangewend het, het ek weer haarsproei aangewend. Só het die kleur heeldag lank gehou!

Die Kevin Murphy Color Bug in Pink se ontwerp maak dit baie maklik om vas te hou en aan jou hare aan te wend. Die pastelpienk kleur is ook perfek vir ’n dag op die strand. Die donkerder kleur van Splat Hair Chalk in Midnight Blue maak dié kleur meer gepas vir die aand. Beskikbaar by uitsoeksalonne en www.hairheroes.co.za.

 

Monica Pienaar, skoonheid-assistent